Klankfobies is ’n ernstige hondegedragsprobleem. Die diere ontwikkel nie net ’n erge vrees vir klappers nie, maar ook ander harde geluide, soos geweerskote en donderstorms. Dit is noodsaaklik om so ’n hond te behandel. Dit is nie duur behandeling nie (nie meer as ’n paar rand nie) en vereis net een kort konsultasie met ’n veearts.

As jy nie ’n private veearts kan bekostig nie, kan jy by dieresorgorganisasies hulp kry. Hierdie behandeling hou die hond rustig en kan selfs gegee word wanneer die geraas reeds begin het. Dit voorkom dat die probleem vererger. Vir behandeling op langer termyn is dit nodig om ’n gedragskundige te konsulteer.

Dit sal meer kos. Die noodbehandeling is by enige veearts te kry, is doeltreffend en goedkoop en kan herhaaldelik toegedien word. Raadpleeg jou plaaslike dieresorgorganisasie en polisie vir die regulasies oor klappers skiet in jou omgewing, aangesien regulasies deur plaaslike owerhede toegepas word en plek-plek verskil. 

Dr. Quixi Sonntag is ’n dieregedragskundige verbonde aan die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria.