Die Kontrei-padstal het in Oktober 2012 sy deure oopgemaak –reg langs die Sasol-vulstasie op pad Wildernis toe van George af.

Wanda de Villiers sê haar liefde vir ’n padstal kom van jongs af. Wanneer hul gesin iewers heen gery het, het hulle altyd stilgehou by al wat ’n padstal is.

Wat die Kontrei-padstal spesiaal maak, is dat Wanda-hulle in regte egte boerekos spesialiseer, waarvan hul pap-en-kaiings seker die bekendste is. “Ons het in ’n stadium met die pap-en-kaiings opgehou, maar die vraag was só groot dat ons dit eenvoudig moes terugbring.”

Hou hier stil, want die swartpotjie-ontbyt is ’n wenner.

Ontbyt is eintlik die ding

Voeg daarby heerlike roosterkoek, vetkoeke en die besonder gewilde lamspastei, en dit is ’n wenresep.

Die Kontrei-padstal maak sy eie wors en hamburgerfrikkadelle en bak sy eie brood en beskuit. Lewerkoekies is die jongste toevoeging tot die plaaskos-spyskaart. “Ons gebruik net die beste produkte.”

Maar die padstal se ontbyte is waarvoor hy eintlik bekend is. Gewone ontbyte word saam met tuisgebakte brood bedien, maar die swartpotjie-ontbyt van mieliepap, eiers, wors, spek en gebraaide uie bly die gewildste. “Vakansiegangers kom eet gereeld hier ontbyt en kom elke jaar weer terug,” sê Wanda.

Van die rakke met geskenke en ingemaakte produkte.

Die meeste van die tuisgemaakte ingemaakte en gedroogde produkte op die rakke word plaaslik verkry. Selfs die olyfolie kom uit die omgewing. Om by die boeretema aan te sluit, is produkte soos boerseep ook te koop.

Veilige speelplek

Die aangrensende motorhawe se pasteie word by Kontrei gebak en van die Kontrei-produkte word in die motorhawe se winkel uitgestal.

Kontrei se doelwit is om iets vir almal in die gesin te bied. Terwyl pa en ma in die restaurant sit en hul nuus met die gratis WiFi lees of tussen die rakke vol padstalprodukte rondstap, het die kinders ’n veilige speelplek met klimrame, swaaie en allerhande dinge om hulle te vermaak.

Dit kan net deur die restaurant bereik word, wat bydra tot veiligheid. “Ons glo ons bied bekostigbare boerekos in ’n omgewing met ’n familiegevoel. Al die oorspronklike werkers is ook nog deel van die familiespan.”

Navrae: 044 889 0097.