Diep spoor deur Jeanette Stals. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R280.

Oor die Groot Trek is al baie geskryf, maar in hierdie nuwe historiese roman word daar vanuit die perspektief van drie uiteen- lopende vroue na dié geskiedkundige gebeurtenis gekyk.

Katrien is ’n sensitiewe Bolander wat moeilik aanpas by die lewe aan die Oosgrens, waar haar man en seun dolgelukkig is. Toe die lewe daar onuithoubaar raak, besluit hulle om die plase te verkoop en hul waens te pak om saam met Hendrik Potgieter na die binneland te trek. Saam met Katrien is Dina, haar eertydse slavin en maatjie van kindsbeen af. Hulle is meer soos susters, of soos Dina sê: “Twee kante van dieselfde vrou.”

Dan is daar ook Thabisa, ’n jong Zoeloevrou wie se hele familie uitgewis word in die stamoorloë. Ná ’n paar moeilike jare, waarin sy baie verlies moet aanskou en verwerk, beland sy ook by Katrien-hulle.

Die vroue se lewens raak onlosmaaklik verstrengel. Selfs al oorweeg elkeen dit om haar eie koers in te slaan, ontstaan daar ’n diepe afhanklikheid van mekaar.

Die trekpad is uitmergelend en besaai met probleme, maar Katrien se man, Stefaans, klou hardnekkig vas aan die droom van ’n eie land. Die hunkering na vastigheid en ’n plek om wortel te skiet, loop ook deur Katrien, Dina en Thabisa, maar uiteindelik besef hulle dat mekaar genoeg is.

Saam met die waens se wiele trap elkeen van die vroue diep spore in die land se geskiedenis.

Brandmerk deur Christelle van Rooyen-Wessels. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R280.

Wat dié speurverhaal anders maak, is dat die leser redelik vroeg in die boek al agterkom wie die bose reeksmoordenaar is wat klein meisietjies op ’n plattelandse dorp so verniel en vermoor. Maar dit beteken nie die spanningselement verloor fut nie.

Die moordenaar is al só geolie in sy wrede taak dat hy begin glo hy is onaantasbaar. Hy is sjarmant, aantreklik en altyd gereed om kapt. André Coghran en sers. Lisa Takalase by te staan in hul ondersoek. Dit duur dus lank voor die gevaarligte by hulle begin flikker.

Maar hy lei nie net die polisie om die bos nie. Daar is ook Klara Dean, die maatskaplike werker by Veilige Hawe, wie se eksman, Johan Francke, ’n reeksmoordenaar was en haar seun, David, aan die verskriklikste geweld onderwerp het.

Dit het harde werk gekos, maar sy het ’n nuwe lewe gebou saam met haar Amerikaanse man, Nathan, en hul dogtertjie, Emmie, op wie David versot is.

Maar hoe lank gaan dié geluk hou? Het Klara sedert Francke se dae ’n beter instink ontwikkel om die adder aan eie boesem te eien? Uiteindelik loop die reeksmoordenaar sy rieme styf, maar ook dan vind hy ’n slinkse manier om almal te uitoorlê en weer aan die “warm winde” in sy kop gehoor te gee.