Die storie van die perdereeks Stare Saddles is ’n uitstekende voorbeeld van hoop wat uit wanhoop gebore is.

Hendri en Jeannette Smit het saam met hul gesin ’n reeks perdesaals en toebehore vanuit hul woonhuis in Bloemfontein begin vervaardig. Dit het gevolg nadat Henri sy werk verloor het en sy pogings as bouer, onder meer in Somalië, misluk het. ’n Jaar nadat die eerste saal voltooi is, kan hulle kwalik voorbly om in die vraag te voorsien.

Die eerste leerprojek wat hulle aangepak het, was skoene. “Aangesien Hendri ’n boer in murg en been is, het die keuse op velskoene geval,” vertel Jeanette.

Die gevolg was vellies van buffelleer en Afrika-velskoene wat deur plaaslike vermaaklikheidskunstenaars opgeraap is.

In sy soeke na ’n uitsonderlike leerproduk het Hendri een oggend wakker geword met die idee om hom op saals toe te spits. Die bal is aan die rol gesit toe hy in Desember 2019 ’n tweedehandse saal aangeskaf en die opknapping daarvan as sy vakansieprojek vir die feestyd aangepak het. Kort daarna het hy ’n tweede saal herbou. Sy eie saalproduksie het April verlede jaar volstoom aan die gang gekom. In die eerste jaar van die pandemie het hulle 35 saals verkoop en hulle werk tans aan verskeie bestellings.

’n Ruiter en sy saal wat met die aardse kleure van die Vrystaatse veld spog. Die S-embleem op die saal se horing is kenmerkend van Stare Saddles. Dié model spog ook met bykomende gevlegte riemversierings. Die saals word volgens die western-­metode met leerrieme vasgeheg. Foto: Imke Smith

Hendri was op sy dag ’n kranige ruiter, maar het mettertyd ál minder met perde te doen gekry. Maar met die maak van die saals en tuie het die plaas letterlik na hul sitkamer teruggekeer.

“Ons hele lewe is nou gevul met saals, tome en besoekende perdeliefhebbers,” sê Hendri. “ ’n Saal simboliseer vir my die vryheid wat jy geniet om die oop ruimtes van die veld aan te durf op iets wat mens en dier verbind.”

Die uniekheid van hul saals is dat dit eenvoudig dog gesofistikeerd is, sonder die kunsmatigheid van patrone wat met masjiene op die leer gedruk word.

Jeannette, ’n gewese radio-omroeper, aanbieder en deesdae onderwyser, se kunssinnige hand sorg vir die kleur van die leerpanele. Volgens haar wil hulle die landskap, kontoere en aardse kleure van Sentraal-Suid-Afrika, wat hulle uit hul kinderjare onthou, in die saals se ontwerp weerspieël. Hendri het op Wesselsbron en Jeanette op Brandfort grootgeword.

Hulle gee noukeurige aandag aan die fynste besonderhede, bekostigbaarheid, die ruiter se veiligheid en die perd se gemak.

Die weelderiger Cilliers-saal met ’n 15/16”- basis kos sowat R12 000 sonder ekstras, soos gevlegte riemversierings. Foto: Imke Smith
Die stiebeuel en stewige buikgord van ’n Stare-saal. Foto: Imke Smith

Pasgemaak

Die saals word vir elke ruiter pasgemaak om by hul uniek liggaamstipe te pas. Die drukpunte van die saals en sweetkolle op die perd se rug word ook noukeurig nagegaan om druksere te voorkom.

Die verskillende ontwerpstyle van die saals sluit in die immer gewilde western, die enduro vir uithouritte en ’n praktiese plaassaal vir bees- en skaapwagters. Die plaassaal is ’n eenvoudige kanniedood-weergawe wat steeds op die beproefde western-manier gemaak word. ’n Styl wat binnekort bemark gaan word en bedoel is vir veewerk, is ’n roper-saal wat ’n dikker horing het.

Alle saals word volgens die western-metode sonder skroewe gemaak, en met leerrieme vasgeheg.

Unieke benamings word aan die saals toegeken. Die Cilliers-saal is na Hendri se pa, ’n verlangse afstammeling van die Voortrekkerleier Sarel Cilliers, genoem.

Die Koos-saal het ’n basis van 17” en is oorspronklik pasgemaak vir mnr. Koos Wessels van Edenburg. Die sypanele van skaapwol en die bande vir die stiebeuels is baie wyer as dié van ander modelle. Hierdie saal word op ’n driehoekige wyse vasgeheg omdat Wessels weekliks lang ure in die saal deurbring. Bande aan weerskante van die saal se voor- en agterkant word aan die buikgordel geheg om ’n stewige driehoek te vorm.

Ten spyte van die feit dat hulle tans in die stad bly, is Hendri en Jeannette ware plattelanders wat nou bande met die landboubedryf gehad het. “Ons het in ’n era grootgeword toe kinders geleer is om met hul hande te werk en daarop trots te wees,” sê Hendri. “Ons liefde vir leer, tesame met skeppende hande en harde werk, is die rede vir ons huidige sukses met die perdereeks.”

Bykomstighede, soos hierdie borsstrook wat vir die rygerief van die ruiter en perd sorg, is stewig en eenvoudig. Foto: Gerda Bekker

Gesinsonderneming

Met die hulp van hul drie werknemers, me. Florence Bonakele en mnre. Jeremia Tsoanyane en Dirk Muntingh, kan die span twee tot drie saals per week maak. Saals is ook na die werknemers genoem. Die Florence het ’n 15/16”-basis en die Jeremia se basis is 17”.

Die intreemodel van R7 000 met ’n 15/16”-basis lyk allermins soos die basiese model wat by ’n koöperasie gekoop kan word. Blou leer, soos in die Cilliers-saal, en turkoois is gewilde kleure om sekere ontwerpe op te helder. ’n Basiese Cilliers-saal kos sowat R12 000. Pasgemaakte saals kan met gevlegte rieme versier word, wat die prys verhoog.

Jeannette se oudste dogter, Imke, behartig die bemarking en administrasie van die onderneming, terwyl haar ander dogter, Nelien, die webwerf behartig.

NAVRAE: Imke Smith, e-pos: staresaddles@gmail.com, 082 583 9495; www.staresaddles.com