Wat doen jy alles by Gannabossie Dekor?

Ons maak bekostigbare houtmeubels en -dekor vir mense wat graag hul huise teen ’n sakpasprys wil mooimaak. Ons reeks is wyd – van kinder- kamermeubels tot dekor- artikels en selfs pasgemaakte produkte vir klante met hul eie idees.

Hoe het jy daarmee begin?

Toe ek ná ons troue tien jaar gelede plaas toe kom – 80 km buite Calvinia – moes ek aan iets dink om te doen. Ek het eendag lapprodukte, soos voorskote en kussings, raakgeloop waaroor ek dol was. Ek het dié produkte begin koop en op klein skaal verkoop. Só het ek by ander plekke ook artikels begin koop en weer verkoop, tot ek besef het niks keer my om my eie produkte te vervaardig nie.

Voor my troue het ek dieper in die Karoo op my pa se grond met varke geboer en na my pa se skape en grond omgesien. Só het ek geld bymekaar gemaak wat ek kon gebruik om Gannabossie Dekor te begin.

Boer jy steeds?

Ek en my man, Ronald, het drie jaar gelede uiesaad begin kweek en ek is nou daarby betrokke. Die droogte het my man gedwing om verlede jaar agt maande lank oorsee te gaan werk. Ek moes alleen die plaas aan die gang hou en kon ook nie ons dogtertjie afskeep nie. Ek het voortgegaan met Gannabossie, al was dit moeilik om by alles uit te kom.

Vanjaar is my man terug, ons gaan op groter skaal uiesaad kweek en ek kan weer meer op Gannabossie en uitbreidingsmoontlikhede konsentreer. Ek hou daarvan om onafhanklik te wees, en danksy Gannabossie hoef ek nie in my man se oë te kyk as ek nou en dan iets vir myself wil koop nie.

Nadia Viljoen en haar man, Ronald.

Was die besigheid dadelik ’n sukses?

Ons het agt jaar gelede nogal met ’n bang weggespring. Dit het regtig goed gegaan, en selfs wins van R1 000 per maand het ek gesien as geld wat ek nie gehad het nie. Dit raak egter ál moeiliker, met mededinging wat strawwer raak.

Hoe kom jy by alles uit?

Deur harde werk en om nooit op te hou om uit die boks te dink nie. Ek skeep myself af, maar glo ek sal later weer by myself uitkom as dinge beter gaan.

Watter rol speel die sosiale media?

Ek het ’n jaar lank ’n winkel op Vredendal gehad, maar gou besef mense sal eerder hul geld elders bestee as om plaaslik te ondersteun. Ek het besluit om eerder terug te keer na die model wat vir my werk, as om myself onder druk te sit om huur te betaal. Ek het nooit weer teruggekyk ná ek die winkel gesluit het nie.

Daarna het ek volstoom op sosiale media begin staatmaak. Ek is op Facebook by Gannabossie Dekor en op my webtuiste (www.gannabossiedekor.co.za).

Wat laat jou produkte uitstaan?

Deesdae duik daar ál meer plekkies op wat dieselfde soort produkte verkoop. Ek dink Gannabossie is eiesoortig omdat ons regtig goeie produkte skep wat nie ’n fortuin kos nie.

Ek probeer dit ook so maklik moontlik vir die klant maak. As iemand byvoorbeeld baie graag ’n produk wil hê, maar dit nie kan bekostig nie, maak ons ’n plan sodat sy dit kan afbetaal. Ek beklink nie net ’n transaksie nie, maar maak ook iemand se hart bly. Ek glo in vriendelike, flinke diens.

Houtlaaie deur Gannabossie Dekor.

Wie doen die houtwerk?

’n Oom op Calvinia bedryf ’n houtwerkonderneming en ek het hom betrek. Dit was ’n bestiering, want hier is nie baie opsies op Calvinia nie. Hy is ’n ongelooflike mens en ek is bly ons paaie het gekruis. Hy maak die stukke, dan verwerk ek dit tot ’n finale produk. As ons baie besig is, help die vroue op die plaas met verfwerk, wat vir hulle ook ’n welkome ekstra geldjie inbring.

Help Gannabossie jou gemeenskap?

Ja, buiten vir die houtwerk-oom wat nou ’n meer gereelde inkomste het, gee ek ook gereeld geskenkbewyse vir byvoorbeeld vroue-oggende. Watter goeie raad het jy al gekry? As iets nie werk nie, leer ’n mens uit jou foute, tel jou kop op en gaan aan. Môre skyn die son weer. My grootste mislukking het my geleer om mense nie maklik te vertrou nie.

Wat hou die toekoms in?

My webtuiste is nog net ’n paar maande oud, en ek wil graag verkope daardeur verbeter en vir Gannabossie ’n nuwe voorkoms gee. Jy moet versigtig wees om nie te verdrink tussen al die visse in die see nie, veral tydens die Covid-19-pandemie wat sake baie moeilik maak vir kleiner ondernemings.