Wat doen julle alles by Rissie?

Rissie is trots daarop om ’n klein Afrikaanse onderneming te wees. Ons produseer sedert Junie 2020 ’n reeks handgemaakte souse en olies met oorspronklike resepte.

Kort ná ons Rissie begin het, het ons besef daar is ’n groot tekort aan rissies en twee maande later het ons na ’n plaas getrek om ons eie jalapeño-, bird’s eye- en habanero-rissies te kweek.

Hoekom het rissies jou verbeelding aangegryp?

Een aand, tydens ’n braai, het ek en my eks ’n pakkie rooi en groen serrano-rissies opgekap en in balsamiese asyn, suiker, uie en knoffel ingelê. Die kleure was pragtig en die smaak heerlik. Ons het begin gesels oor die moontlikheid om ’n onderneming te begin wat rissiesouse produseer.

Dieselfde aand het ek die webtuiste www.rissie.co.za gekoop vir toekomstige gebruik en ’n Facebook-blad begin met die naam “Rissie: My reis, my rissie – die dagboek van ’n entrepreneur”. Dit is ’n persoonlike bladsy wat die produkte van begin tot einde volg.

Wie doen die produkontwikkeling?

Ons het twee weke lank net gekook en geproe en met die hulp van navorsing en ’n paar YouTube-riglyne ons eie, oorspronklike souse ontwikkel. Ons beste verkopers is die habanero-sous en die rissie-olie.

Watter vaardighede het jy wat jou help?

My agtergrond is in bemarking en advertensies. Dit speel ’n groot rol wanneer dit by die verkoop van die produkte kom. Baie mense het goeie produkte, maar sukkel om dit reg te bemark. Ek glo ’n goeie foto verkoop homself.

Watter terugslae moes jy al te bowe kom?

Ek moes al ’n paar keer bestellings oordoen. Die rissie-olie verg baie tyd, aandag en liefde. As jy ’n fout maak met die metode, moet jy van voor af begin om die smaak en kleur te vervolmaak.

Wat spoor jou aan om suksesvol te wees?

My kinders. Ek doen dit vir hulle, sodat hulle eendag met trots kan sê: “Dis my ouers.” Aan die begin was dit baie moeilik om die produk by ons eerste winkel te verkoop, maar die gogga het gebyt toe ek die eerste bestelling aflaai. Nou het ons al gevorder van ’n paar bottels na bokse vol bottels per bestelling en ons produkte is by meer as 30 winkels beskikbaar.

Twee van die topverkopers in Rissie se reeks is die rissie-olie en habanero-sous.

Hoe maak jy mense bewus van jou produkte?

Ek bemark Rissie op verskeie Facebook-platforms. Daar is baie koop-en-verkoop-groepe wat ’n mens kan gebruik en gelukkig verkies mense om in hierdie tye die kleiner ondernemings te ondersteun. My Facebookblad beskryf alles wat ek doen en Rissie se volgelinge stap elke dag saam met my die pad. Ek deel my sukses, mislukkings en vordering met hulle.

Hoeveel mense werk by Rissie?

Op die oomblik is dit net ek, maar vir groter bestellings roep ek soms hulp in.

Is jy van nature georganiseerd?

Dis noodsaaklik om ’n skedule op te stel, sodat jy nie soms onkant betrap word en tot laat snags moet werk of onderhandel en niks tyd vir enige iets anders het nie. Jy moet jou lewe só balanseer dat niemand afgeskeep voel nie. Dis moeilik as jy vir jouself werk, maar jou tyd saam met jou kinders is kosbaar en moet vir niks verruil word nie.

Wens jy daar was iets wat jy geweet het voor jy met die onderneming begin het?

Op die oog af het dit maklik gelyk, maar ek sou nooit kon raai dat dit sulke harde werk gaan wees nie – van die kookproses tot bottels steriliseer, plak en pak en dan moet dit nog verkoop word.

Wat is die beste raad wat jy gekry het?

Heel aan die begin het iemand gesê: “Begin net, gebruik wat jy het, en doen wat jy kan met dit wat tot jou beskikking is.”

Wat lê voor vir Rissie?

Ons het goeie vooruitsigte vir die jaar. Daar is sprake van ’n belegger en ons is ook besig om voedselveiligheidmaatreëls toe te pas. Ons doelwit is om deur een van die kleinhandelgroepe se verspreidingsentrums aanvaar te word. Soos die sê-ding lui: “Droom groot!”

NAVRAE: E-pos: info.rissie@gmail.com, 072 753 3421.