Vertel ’n bietjie oor jou kwekery, Hektaar Plants?

Dit is ’n vernuwende aanlyn kwekery op die plaas Aan de Doorns, net buite Worcester. Ons verkoop interessante en ongewone huisplante en bykomstighede (soos potte, mandjies en hangers), maar ook meer algemene plante wat steeds gewild is. Jy kan vanuit die gemak van jou huis plante bestel, wat deur ’n koerier op jou voorstoep afgelewer word. Ja, dit klink vergesog dat potplante só afgelewer kan word, maar ons verpak dit goed sodat die gehalte behoue bly.

Danksy die sorgvuldige, stylvolle verpakking en die regte koeriers kan ons plante sonder enige probleme reg oor die land aflewer. Ons maak seker ons klante kry goeie inligting en aanwysings oor versorging, sodat hulle goed na hul plante kan omsien.

Die kwekery word biologies bestuur sodat ons ons kosbare hulpbronne kan bewaar en dit wat aan ons toevertrou is, verantwoordelik benut. Ons bied ook werksessies saam met De Kleipot, my ma se pottebakkersonderneming, aan. Gaste kan hul eie potplanthouer verf of ’n bak uit klei vorm en ons gesels oor ’n spesifieke plant. Dit is ’n lekker idee vir kombuistees of verjaardagpartytjies.

Hoe het dié idee ontstaan?

Ek was nog altyd baie lief vir plante en my plantversameling het oor die jare gegroei. Ek wou dit met ander deel. Ek wou hê mense moes óf die plaas en sy rustigheid ervaar, óf plante koop om die natuur nader aan hul eie lewe te bring. Ek het reeds op universiteit besef daar is ’n groeiende mark vir huisplante en aanlyn verkope.

Het jy enige agtergrond in plantkunde?

Behalwe dat ek ’n plaasmeisie is vir wie dit vanselfsprekend is om plante – of dit nou wingerd of ander gewasse is – om my te hê, het ek plantfisiologie aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Die tema van my honneursprojek was huisplante, maar ek het daarna in die tafeldruifbedryf gewerk. Min wetende dat ek wel na huisplante sou terugkeer! Danksy my agtergrond verstaan ek plante, kan ek produktief kweek en goeie versorgingsaanwysings aan klante gee.

Kweek jy self jou plante of koop jy dit aan?

Die meeste kweek ek self in my tonnelstruktuur. Ek koop egter ook aan by groothandelaars. Die gekoopte plante word eers goed versorg tot dit aan my standaarde voldoen voor ons dit weer verkoop. Ons wil nie net goeie diens lewer nie, maar ook waarde vir geld bied.

Watter plante is tans in die mode?

Plantsoorte uit die 1980’s en 1990’s maak nou ’n terugkeer, soos nuwe kultivars van hen-en-kuikens of ongewone skoonma-se-tong-plante. Plante soos die geraamteplant (delicious monster) of vioolblaarvy (fiddle leaf fig) sal altyd in die mode bly. Gesogte plante met unieke patrone, kleure en vorms wat voorheen slegs onder versamelaars gewild was, word nou ook vir Jan Alleman aanloklik. Dit is plante soos Calathea, Ctenanthe, Philodendron en Pepromia.

Watter rol speel jou kwekery in die gemeenskap?

Een vrou werk heeltyds vir my. Sy het geen ondervinding van plante of die landbou gehad nie, maar gou die kweektegnieke en elke plant se water-, lig- en voedingsbehoeftes onder die knie gekry. Tans leer sy ook kommunikasie- en administratiewe vaardighede aan. My werkers se persoonlike ontwikkeling is vir my baie belangrik. ’n Kwekery is ’n intensiewe besigheid, en soos ons uitbrei, sal meer hande en bestuur nodig raak.

Ons probeer om slegs mense uit ons gemeenskap te werf en te bemagtig. Ek glo ook ons gee blootstelling aan ons omgewing, met die wynkelder, padstal en ander unieke ondernemings (nes hulle aan ons blootstelling gee).

Hoe maak jy mense bewus van Hektaar Plants?

Facebook en Instagram is die belangrikste bemarkingskanale en speel ’n wesenlike rol in die besigheid se groei. Sosiale media is gebruikersvriendelik en baie goedkoper as ander platforms. Al het ek nie ’n bemarkingsagtergrond nie, kan ek daardeur ons teikenmark bereik en nuwe klante werf.

Sosiale media bied ook ’n makliker “pad” vir klante om die aanlyn mark te betree, want aanlyn inkopies is ’n konsep wat nog ontwikkel in Suid-Afrika.

Jy’s ook gelukkig dat jou hele familie jou ondersteun.

Ja, ek is bevoorreg om ’n gedugte span om my te hê. My broer, Matie, boer op die plaas en het vernuwende maniere ontwikkel om my tonnel meer tegnologies en produktief te maak.

Die res van my familie en my verloofde sluit ontwerpers, pottebakkers, produksiebestuurders en hortoloë in. Hulle is die perfekte spanlede en ’n goeie ondersteuningsnetwerk wat my gehelp het om die onderneming te begin.

Wens jy daar was iets wat jy geweet het voor jy met die onderneming begin het?

Dat die grendeltyd só lank gaan aanhou! Gelukkig is Suid-Afrikaners staatmakers en talle mense het moeite gedoen om klein, plaaslike ondernemings soos myne te ondersteun – of hulle nou ’n plant gekoop het of net ons produkte aanlyn vermeld het.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Ons wil binnekort ’n plantewinkel op die plaas open, waar plantliefhebbers rustigheid kan vind tussen die groenigheid. Die tonnel is reeds oop vir verkope, maar die winkel sal ’n unieke ervaring bied.

Ons wil ook die gasvryheidsbedryf betree, deur plante te verhuur en loof en blomme te kweek vir geleenthede.

NAVRAE: E-pos: hello@hektaarplants.co.za, 082 555 3040; web: hektaarplants.co.za