Julle woon in die hartjie van die Karoo. Hoekom het julle besluit om juis daar met blomme te boer?

Ek en my man, Gareth Asher, boer op die plaas Tafelberg Hall by Middelburg in die Oos-Kaap. Ek en René Moolman, my vennoot wat op George in die Suid-Kaap woon (maar binnekort Somerset-Wes toe trek), is al meer as sestien jaar lank vriendinne – sedert ons dae as onderwysstudente op Stellenbosch. Ons kuier nog gereeld saam, al woon ons 500 km van mekaar af.

Tydens een van ons Karoo-winterkuiers het ons besluit om saam iets aan te pak. Die idee van ’n blomboerdery het by Annemarie Meyer van Uitsig Venue op George ontstaan. Ek en René hou albei steeds skool, en die blomboerdery is ’n gemeenskaplike belangstelling wat ons vriendskap nóg sterker maak.

Hoekom het julle op pioenrose besluit?

Die Karoo is nie juis bekend om blomproduksie nie en ons moes baie navorsing doen. Eintlik het ons besef ons waag ’n vet kans! Pioenrose vereis koue winters (minstens 40 tot 60 dae moet minder as 6 °C wees), maar ook warm, sonnige somers. Dit is die perfekte, ekstreme klimaat wat die Karoo bied.

Boer julle met spesifieke kleure of soorte?

Ons het aanvanklik vier kultivars uit Nederland ingevoer as ’n toetslopie. Dit is die Sarah Bernhard (’n pienk kultivar), Amalia Olsen (’n wit blom met ’n heerlike geur), Kansas (donkerpienk) en Choral Charm.

Pioenrose is risome (dit lyk nogal soos ’n patat) wat jy plant. Ons wil later self die plante verdeel en ook risome verkoop.

’n Bossie van die fraai pioenrose.

Op hoeveel hektaar boer julle?

Die plante moet eers van hul derde jaar af blom, dus moes ons die knoppe afknip. Vanjaar blom die plante wat ons oorspronklik ingevoer het vir die eerste keer. Ons het tans sowat ’n halwe hektaar onder pioenrose, maar ons doelwit is om op 3 ha te boer.

Boer julle in tonnels of oop landerye?

Ons aanvanklike idee was oop landerye, maar die fel Karooson in Januarie en Februarie laat dit nie toe nie. Ons plant die rose nou onder nette.

Waar versprei en verkoop julle die blomme? Is dit nie ’n probleem dat jy so afgeleë is nie?

Die vervoer en verspreiding was van die begin af ons grootste struikelblok. Pioenrose moet in koeltrokke vervoer word, wat dit selfs moeiliker maak. Tans lewer ons die blomme aan Yes! Exclusive Flowers op George, wat aan bloemiste en die publiek verkoop. Hulle laai ons blomme op vragmotors wat met groente van die Johannesburgse varsproduktemark terugkeer.

Ons verskaf ook plaaslik blomme. Daar is moontlikhede om binnekort blomme na die Paarl te stuur en aan ander verskaffers en bloemiste te verkoop.

Die plante word onder net gekweek om hulle teen die fel somerson te beskerm.

Is die pioenroos ’n moeilike blom om mee te boer?

In ons omgewing stel die natuur beslis eise. Laat ryp, winters wat nie koud genoeg word nie, hael of sterk wind is alles dinge waaroor ons nie beheer het nie, maar wat die gehalte van ons blomme kan beïnvloed. “Op jou knieë bly”, soos my ma altyd sê, het nog nooit meer betekenis gehad as nou nie.

Dit is ’n arbeidsintensiewe boerdery, veral in Oktober en November wanneer dit blomtyd is. Die blomme moet twee keer per dag gepluk word. Onkruid is ook nie ons vriend nie. In hierdie stadium is ons plaas se werkers baie behulpsaam, maar van volgende jaar af sal ons waarskynlik self mense in diens moet neem.

Watter lesse het julle geleer?

Lag maak beslis alles beter. Ons permitte het draaie met ons geloop – ons kon al tot ’n dragtige merrie invoer! Vra is vry – ons het baie mense om raad en hulp gevra en party het uit hulle pad gegaan om te help. En laaste maar nie die minste nie: genade.

Watter wenke en raad het julle vir mense wat pioenrose in hul tuin wil plant?

Pioenrose lewe vir vyftig tot selfs honderd jaar en is beslis ’n aanwins vir enige tuin. Maak net seker dit is koud genoeg in jou streek en plant die plante waar hulle ses tot agt uur direkte sonlig per dag kry. Pioenrose hou nie daarvan om naby groot struike of bome te staan nie. Maak dus vir hulle hul eie bedding.

Wat geniet julle die meeste van die besigheid?

Soms kan ons nie glo dat hierdie fantastiese plant uit die Karoo se grond kom nie. As hulle begin blom, is ons soos kinders oor roomys – ons kry nie genoeg nie!