Lizelle Wentzel en Wilanie de Villiers van Western Cape Microadventures is twee avontuurlustige vriendinne wat graag hul liefde vir die natuur en platteland met mense deel. Hiervoor het hul mikro-avonture ontwikkel wat kort wegbreke met baie oemf aan gaste bied.

Wat is ’n mikro-avontuur?

Ons bied kort, bekostigbare avonture wat nie te ver van Kaapstad af is nie en maklik in iemand se bedrywige lewe kan inpas. Jy het net twee dae nodig vir ’n wegbreek vol verrassings.

Waar het julle dié idee gekry?

Ons het eendag die woord mikro-avontuur in ’n tydskrif raakgelees en dadelik daarvan gehou. Gedurende die Covid-19-inperking het ons begin wonder wat ons vir ’n ekstra inkomste kan doen. Mikro-avonture het na ’n briljante idee geklink. Porterville (waar Lizelle woon) word maklik onderskat, terwyl dié dorp so baie aan besoekers bied. Dieselfde geld die pragtige Breedekloof (waar Wilanie bly).

Ons het besef mense wil graag in die buitelug kom en tyd in die natuur deurbring in die grendeltyd, maar omdat internasionale reise nie juis ’n opsie is nie, moet hulle die plaaslike toerismemark ondersteun. Mense is ook al verveeld met die stedelike staproetes, en dit raak toenemend gevaarliker. Ons is naby genoeg aan die Moederstad vir die stadsjapies, hier is baie ruimte en dis veilig en bekostigbaar.

Vir wie bied julle die avonture aan?

Vriende wat lus is vir ’n avontuur, ouers met kinders, groepe… Ons ondersoek ook avonture wat jy in een dag kan aanpak en avonture vir die winter en die somer. Ons het aanvanklik slegs groepbesprekings vir vroue gedoen, want mans gaan vang vis, speel gholf of gaan jag, maar vroue het minder geleentheid om weg te breek. Enkelvroue wil ook soms weggaan, maar dis gevaarlik om alleen te gaan stap of bergklim.

Gewoonlik sluit ons pakket verblyf vir twee dae in. Jy kan in die Porterville-area gaan bergklim en van een waterval na ’n volgende stap – daar is 22! Of jy kan gaan stap om die rooi disa te soek (Januarie tot Maart) of afkoel in natuurlike waterpoele. In die Breedekloof kan jy plaasverblyf geniet, in die Slanghoekberge gaan bergklim, of wyn of bier saam met kolwyntjies of wafels proe. Daar is ook trekkerritte en pieknieks, wat veral by gesinne gewild is.

Wilanie de Villiers (links) en Lizelle Wentzel is natuurliefhebbers en mal oor die bos, grondpaaie en onontdekte plekke.

Wat geniet mense gewoonlik die meeste van die avonture?

Hulle ontdek nuwe plekke waarvan hulle nie geweet het nie – en dis boonop op hul voorstoep.

In die proses ondersteun julle ook die plaaslike gemeenskap?

Ja, heelwat besighede trek voordeel uit ons onderneming. Ons was en is albei betrokke by ons dorpe se toerisme-afdelings, daarom weet ons van al die interessante mense en ons ken die areas goed. Ons kan mense dus dinge wys waarvan selfs die plaaslike mense nie altyd weet nie.

Ons verkies om die plaaslike gemeenskap te ondersteun en koop tuisgemaakte konfyt uit die omgewing. Daar is ’n vrou wat vir ons brood bak, ons koop slaaibestanddele by ’n organiese boer, melk direk van ’n ander boer en kry sap by ’n vrou wat haar eie vrugtesap maak. Die gaste geniet dit, want alles wat ons voorsit, het ’n storie. Dit verskaf ons ook baie plesier om die plaaslike mark te ondersteun. Jy kan nie ’n prys aan mense se dankbaarheid koppel nie.

Waarom is julle ’n goeie span?

Ons ondersteun mekaar en ons dink dieselfde. Ons is vriende wat dit albei vreeslik geniet om te toer. Ons is lief vir die natuur en om nuwe plekke te ontdek. Ons spring maklik in die motor en gaan op ’n “vinnige” reis van 1 000 km om gou deur ’n bos te stap, grondpaaie te ry of oor berge en dale te ploeter om nuwe plekke te ontdek.

Ons gaan stap en klim eers self elke roete wat ons bemark – al is dit diep in die berge sonder selfoonontvangs. Ons neem foto’s van die omgewing sodat gaste weet wat om te verwag.

Lizelle: Wilanie is waaghalsig en spring sommer in poele vir beter foto’s.

Wilanie: Lizelle is bang vir paddas!

Hoekom is jul avonture so suksesvol?

Die natuur voed jou siel en weens Covid-19 moet mense meer kreatief begin dink. Ons geniet dit om met mense te werk en boonop die natuur te geniet terwyl ons dit doen.

Is daar iets wat julle graag sou wou geweet het voor julle met die onderneming begin het?

Moenie jou vorige probeerslae as mislukkings sien nie. Beskou dit eerder as ’n leerproses. Daar is altyd geleenthede, en iewers moet iets werk. Aanhouer wen!

Watter goeie raad het julle gekry?

Lizelle: My vorige baas het altyd gesê: “Cover your ass with paper.” Wilanie: My ma se raad was om nooit jou drome te bêre nie, maar voluit te leef, want die lewe is kort.

Watter mikro-avonture beoog julle vir die winter?

Ons beoog onder meer ’n besoek aan ’n proteaplaas en ’n jenewerstokery op Porterville se berg. Ons onderhandel ook met ’n boer vir opsies om onder die sterre te slaap en na watervalle te stap.

Navrae: E-pos: wcmicroadventures@gmail.com, 082 413 6511 of 079 454 4893, web: westerncapemicroadventures.wordpress.com