Die soektog na alternatiewe proteïenbronne vir dierevoer en voedsel vir mense is ’n noodsaaklike stap in volhoubare kosproduksie. 

Roomys is dalk nie ’n oplossing vir hongersnood nie, maar die proses om proteïene wat van vlieglarwes afkomstig is, as bestanddeel in kos te gebruik, is ’n groot stap vorentoe.

EntoMilk word uit die venstervlieg (Hermetia illucens) se larwe vervaardig. Dit dien as alternatief vir melk, maar is laktosevry. Dit bevat nie gluten of koolhidrate nie.

Volgens die vervaardigers, Gourmet Grubb, is dié vlieglarwemelk glo supergesond en propvol proteïene en minerale, soos sink, yster en kalsium.

Die blote gedagte aan waar dié insekmelk vandaan kom, is egter genoeg om baie verbruikers onmiddellik te walg, maar die jong entrepreneurs wat Gourmet Grubb se roomys ontwikkel het, is opgewonde oor die volhoubaarheid van dié bron.

Die medestigters van die maatskappy, mnr. Jean Louwrens (bedryfshoof) en me. Leah Bessa (hoof van produkontwikkeling), meen dit is nie net genoeg om ’n insekteproteïenbron te ontwikkel nie, maar ook om van meet af aan smaaklike kos vir mense daaruit te maak.

Hul eerste produkreeks is daarom op roomys toegespits. Die vlieglarwes word by Kaapstad op ’n plaas uitgebroei.

“Die plaas oes die larwes hoofsaaklik vir veevoerproduksie, maar ons larwes word op ‘skoon voer’ grootgemaak voor ons dit vir verwerking oes,” sê Bessa.

In die landbou is uitgebreide navorsing en produkontwikkeling al plaaslik en internasionaal gedoen op die gebruik van venstervlieglarwes in veevoer, veral in hoëproteïenvoer vir varke en hoenders. Die bykomende voordeel is dat die vlieglarwes gebruik kan word om kombuisafval of afval van slagpale te vreet, voordat dit tot alternatiewe proteïenbron gedroog en verwerk word.

Navorsing deur mnr. Hayden Driemeyer vir sy M.Sc.Agric-tesis (2016) aan die Universiteit Stellenbosch dui daarop dat Hermetia illucens geskik en veilig is in intensiewe varkproduksiestelsels. Op droëmateriaalbasis bevat die larwemeel ’n ruproteïeninhoud van 35,92%, 48,09% ruvet, 6,53% ruvesel en 7,79% as.

Hermetia illucens is wonderlike insekte wat organiese afval ‘herwin’ deur dit in proteïen van ’n uitmuntende gehalte en vet om te skakel,” verduidelik Bessa. EntoMilk word van die larwes gemaak in ’n proses wat skoon en veilig is en aan voedselgraadstandaarde voldoen. Die presiese resep bly egter ’n geheim.

Tans is die grootste struikelblok Westerse verbruikers en om hulle te oortuig dat dit nie sleg of grillerig is om insekte vir voedsel te gebruik nie. “Met die nodige opvoeding, inligting en smaaklike kosse en lekkernye wil ons hierdie indruk op sy kop keer,” sê Bessa.

“Die roomys wat ons tans vervaardig, bestaan uit EntoMilk, heuning as versoeter en vir die verskillende geure gebruik ons kakao, grondboontjiebotter en chai-speserye. Ons wil uiteindelik ’n alternatiewe, volhoubare proteïenbron skep wat nes suiwel gebruik kan word. Die roomys wys hoe maklik dit is om EntoMilk in voedselvervaardiging te gebruik, dat dit smaaklik is en baie min druk op natuurlike hulpbronne plaas.”

As jy hierdie unieke roomys wil toets teen die ware Jakob, kyk uit vir Gourmet Grubb se stalletjie by die Tokai-kosmark, Saterdae van 09:00 tot 14:00.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.