Wanneer het die seepgogga gebyt?

Dit was in ’n stadium ’n groot gier op sosiale media om seep te maak. Ek het besluit dit is iets wat ek wil doen en het seker elke YouTube-video gekyk en elke blog gelees waarop ek my hande kon lê. Tot ek besef het dis nie opvoedkundig genoeg nie, en in ’n paar goeie boeke belê het. Eers ná ’n jaar se probeerslae kon ek handgemaakte, volhoubare seep maak waarop ek trots is en met selfvertroue kon bemark. Dit is maklik om ’n resep te lees, maar geen geld kan ervaring koop nie.

Hoe word dit toe ’n onderneming?

In 2018 het ek swanger geword met my engelkind, Aaron. Ek het besef ek is in die moeilikheid, want ek was nog ’n student. Dit was nie maklik nie, maar ek het besluit ek wil Aaron self grootmaak en so lank moontlik tuis by hom wees, ten spyte van die finansiële struikelblokke. Al manier waarop ek dit kon doen, was deur my eie besigheid te begin.

Was dit dadelik suksesvol?

Ná Aaron se geboorte in 2019 op Stellenbosch, waar ek en sy pa gebly het, was dit moeilik sonder die ondersteuningsnetwerk wat my familie bied. Die droogte het my ouers se vlerke geknip, en hulle kon my nie finansieel help nie. Ek het tussen Stellenbosch en die plaas by Middelpos in die Noord-Kaap begin leef.

Verlede jaar was een van die moeilikstes in my lewe. Weens die Covid-19-pandemie het mense nie geld aan luukshede en ekstras bestee nie, en seepverkope het opgedroog. Ná ’n seer liefdesteleurstelling was ek en Aaron alleen. My ouers kon my nie finansieel ondersteun nie, buiten om vir my blyplek te betaal. Ek het permanent plaas toe getrek waar mense wat my liefhet, my ondersteun het.

Ek moes myself herinner dat ek suksesvol en selfstandig kan wees. Namate die inperkingsregulasies verslap is, het ’n mark voor my oë ontvou. Ek lewer nou seep in groot maat aan plaaslike en ander besighede in die Boland, asook per e-posbestelling. Veld Hansie ervaar nog groeipyne, maar daar is geleenthede wat ontwikkel en goeie vooruitsigte.

Vertel meer oor die naam Veld Hansie.

Ek wou die Karoo en waar ek vandaan kom, eerbiedig. Toe my ma my verwag het, het sy hard gewerk om volstruise groot te maak. ’n Tannie het eendag gevra of sy ’n dogter of seun verwag, maar my ma was só toegegooi met werk dat sy nie baie ag kon slaan op haar swangerskap nie.

Die tannie het gesê ek sal dan seker ’n veldhansie (’n wesie van die veld wat deur die diere om haar grootgemaak word) wees. Dit was ’n akkurate uitspraak, want van my vroegste herinneringe is van diere.

Wat geniet jy die meeste?

Dit was ’n moeilike besluit om myself as enkelmamma in die Karoo te vestig, maar ek glo my seuntjie is gebore om op die plaas te wees. Hy is in sy element as hy trekker of vragmotor kan ry, ’n hoender vang of in die watervore speel. En ek geniet dit om seep te maak. Dit maak daagliks kreatiewe deure vir my oop.

Waarom is jou seep uniek?

Ek het my seepresep só geformuleer dat dit die vel voed en ’n goeie rakleeftyd het. Dit het te doen met die kombinasie van vette en olies. Ek het ook besluit om nie mika (’n kleurmiddel) te gebruik nie. Dit is ’n mineraal wat in Madagaskar en Indië gemyn word, en daar is sprake van ’n onetiese bedryf en kinderarbeid.

Ek kon nie bevestig waar my mika vandaan kom nie, daarom het ek besluit om dit liewer nie te gebruik nie. My sepe se kleur is dus uniek, want ek gebruik paprika, borrie, tee-aftreksel, klei, okkerneutdoppe en sap vir kleur.

Hoeveel seep maak jy tans?

Ek mik vir sowat 500 koekies seep per maand. Ek probeer altyd vier geure in voorraad hê vir ’n mate van bestendigheid, maar beperk my nie tot ’n reeks nie. Ek gun myself eerder die kans om kreatief te wees met geur- en kleurkombinasies.

Wie inspireer jou?

My pa het altyd gesê ons is bestaansboere, maar ek dink in dié stadium is ons eintlik oorlewingsboere. Elkeen in my familie is ’n vegter. My ouers het amandelbome geplant en my ma en skoonsuster bak koekies – alles om die droogte en ellende die hoof te bied. Met dié voorbeeld en inspirasie moes ek mos my eie onderneming aanpak.

Wat het jy geleer?

Om altyd lopende kapitaal te hê vir onverwagte uitgawes en uitbreiding. Beste raad wat jy al gekry het? My ma sê altyd niemand anders kan jou omstandighede verbeter nie, net jyself kan.

Enige toekomsplanne?

Ek wil my seep winsgewend maak en Veld Hansie verder uitbrei. Ek maak ook badsout en hekel waslappies om ’n lopende inkomste te verseker.

Hettie Steenkamp en haar seuntjie, Aaron. Daar is eens baie seep gemaak in die Karoo, en Hettie sit dié kuns voort. Foto’s: Aneen Nel
navrae en bestellings: E-pos: veldhansie@gmail.com