Wes-Kaap

Favourite Things-mark, Gabriëlskloof, Botrivier

14-16 Desember

Geniet ’n dag op dié Overbergse wyn-en-olyfplaas met 45 uitgesoekte stalletjies vol handgemaakte, stylvolle en seldsame produkte – van soetgebak tot juweliersware en breiwerk. Soos die plaas se mediaverklaring lui: Gesinne en vrinne, en selfs vriendelike honde, is welkom! Inligting: Webwerf: www.gabrielskloof.co.za of tel. 028 284 9865.

Twilight-Kersfeesmark, Blaauwklippen, Stellenbosch

17-22 Desember

Vir vyf aande raak dié Stellenbosse wynplaas ’n miernes van bedrywigheid danksy musiekkunstenaars, Kerssang by kerslig, bedrywighede vir kinders, en selfs water vir Wagter, wat ook welkom is by die mark. Die tafels kreun onder lekkernye, antieke ware en handgemaakte produkte in kleurryke stalletjies. Inligting: Webwerf:www.blaauwklippenfamilymarket.co.za/open-mic

Tuinroete

Ekliefkrismis, Eden Place, George

12-22 Desember

Digby die afdraai na Victoriabaai kan jy spesiale geskenke vir die spesiale mense in jou lewe opspoor wanneer die Ekliefkrismis-Kersmark begin. Uitstallers van oor die land heen bring hul produkte na dié gewilde mark aan die Tuinroete. Maak jou reg om klere, kuns en dekor in jou mandjie te laai. Die grootste bonus? Daar is selfs ’n paar stalletjies nét vir die manne. Inligting: Webwerf: www.ekliefkrismis.co.za

Oos-Kaap

Boer-e-goete, Victoria-saal, Graaff-Reinet

13-26 Desember

Die Boer-e-goete-Kersmark gaan oor alles wat met die Karoo te make het. Dié feestelike mark, in ware plaasstyl, word in Graaff-Reinet se historiese stadsaal gehou. Dit bied dekor, geskenke, gebak en biltong. Wees ook op die uitkyk vir die foto-ateljee, en moenie die kans misloop om jou Kersinkope by die geskenkpapierstasies te laat toedraai nie. Op 22 Desember is daar laataand-inkopies en lekker musiek. Inligting: Webwerf: www.plattelandevents.co.za

Gauteng

Irene Village-Kersmark, Nelsonweg, Pretoria

3 November-16 Desember (Saterdae)

Met musiek wat jou voete laat jeuk, vrolike stalletjies en lekker winskopies is die Irene Village-Kersmark ’n goeie keuse vir jou Kersinkopies. Boonop kan jy smul aan enigiets van tradisionele kos tot fynproewerprodukte. Die kersie op die koek? Daar is genoeg parkering beskikbaar! Inligting: E-pos: irenemkt@mweb.co.za

KwaZulu-Natal

Shongweni-boere-en-vlytmark, Hillcrest, Durban

1-29 Desember (Saterdae, maar ook 16 en 17 Desember)

Dié mark is altyd ’n hoogte- punt op die KwaZulu-Natalse kalender. Met meer as 200 stalletjies word ’n fantastiese verskeidenheid produkte te koop aangebied. Die keuse raak elke jaar net groter en groter! Die genotvolle atmosfeer sal enigeen in die regte luim vir Kerstyd kry. Inligting: E-pos: info@shongwenimarket.co.za

Vrystaat

Bloemskou-Kersmark, Violetsaal, Bloemfontein-skouTERREIN

30 November tot 2 Desember

Dié mark is so lekker, Lollos gaan selfs ’n draai kom maak om die kleingoed met twee vertonings op 1 Desember te vermaak. Toegang tot die mark is gratis, maar bring speelgoed, hondekos, toiletware of kos saam as ’n donasie aan onderskeidelik Engo, die DBV en Towers of Hope. Inligting: E-pos: ane@bloemshow.co.za

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.