Manfred was in Garies se laerskool toe lady Diana prinses geword het ná haar troue met ’n lang bakoorprins genaamd Charles. En hoewel sy pa niks goeds oor die Engelse te sê gehad het nie, het selfs hy met Manfred saamgestem dat dié prinses Diana darem vir jou ’n mooi vrou was.

Miskien was dit die dorheid van Namakwaland, die klip-sand, die harde, droë bosse en die vaalheid van die vlaktes waaraan Manfred en sy pa gewoond was wat die prinses só mooi en onbekombaar op daardie Huisgenoot-foto’s laat lyk het. Die sysagte hare wat net bokant die roomkleurige lobbe van haar perfekte ore hang.

Daardie vel, die kleur van vars, warm melk voor die room afgeskep is. Die statige vorm van haar neus en die groot oë onder sterk wimpers . . . wel, dís hoe koninginne en prinsesse lyk. En al is hulle Engels, mooi was nog nooit lelik nie. Selfs toe Manfred in die middel 1990’s – nadat sy pa by Hondeklipbaai se kreeffabriek afgetree en in die ouetehuis op Lambertsbaai gaan woon het en Manfred deur oom Evvie Niemand as plaasbestuurder aangestel is – het hy ou foto’s van lady Di in ’n skoenboks gehou.

Saam met die een vergeelde babafoto van hom en sy ma. Sy oorle’ moeder en haar enigste kind. Daar was net een vrou wat vir Manfred mooier as prinses Di was, en hy het haar op ’n koue, sonnige oggend op Springbok gesien toe hy van oom Evvie se plaas af gery het om spuitstof vir die skape se neuswurms by die nuwe veearts te gaan koop.

Dit was haar stem wat hom daar en dan laat besluit het hierdie vrou met die kort, reguit, blonde hare en bruin skouers was die mooiste wese wat hy nóg in lewende lywe gesien het. Sy het met die veearts se ontvangsdame gesels, vinnig, soos iemand wat sing en sommer lag ook.

Dit was die stem van léwe en van die vreugde wat daarmee behoort saam te gaan, en sy het gepraat oor ’n hond en ’n skaafplek en medisyne. Maar vir Manfred het dit geklink soos ’n hemelse lied, ’n ode aan die vreugde van menswees. En toe draai sy om en kyk hom in sy oë, haar wye mond nog getrek in ’n blinkwit glimlag; twee blou poele oë in haar son-gesoende gesig en ’n lang, egalige neus wat — dit kon hy nie glo nie — werklik nes prinses Diana s’n lyk.

“Môre, môre!” het sy gesê terwyl sy hom in die oë kyk en vinnig verbystap, uit die veearts se klein spreekkamer uit. Haar naam was Peggy Eloff, het die veearts se ontvangsdame hom vertel, Wessel Eloff se jongste dogter. Die Eloffs, weet hy van oom Evvie wat als weet, was welgestelde mense wat in ’n ruim huis bokant Springbok se skool gewoon het.

Peggy was — nes haar pa — ’n prokureur. Maar sy was by die hof in Kaapstad waar sy glo belangrik genoeg is om ’n swart toga te dra, terwyl haar pa, Wessel, nie meer in die regte werk nie, maar ’n klomp geld maak uit myne en plase en grond. “ ’n Diknek,” het oom Evvie later daardie dag gesê terwyl hulle die nuwe lammers tussen die rooigrond en dooie gras getel het.

Manfred het uitgekyk oor die klipgrond, die verlate ruimte en die lae blou lug, en die hitte gevoel van die ewig versengende son. En geweet: Die wêreld is eintlik baie mooi as daar vroue, soos prinses Diana, daarin woon. Saam met Peggy Eloff. Manfred kon elke aand na die foto’s van prinses Diana kyk. En nou en dan was sy op die klein televisiestel in die agterkamer, byna lewend in haar mooiheid. Hy het elke week dorp toe gegaan om oom Evvie en tant Lina se voorraad te gaan haal, en nou en dan het hy Peggy Eloff gewaar.

Op ’n afstand, maar nooit met haar gepraat nie. Tog was dit nie nodig nie – hy kon agterna beter oor haar dink nadat hy haar in lewende lywe gesien het. En toe laat weet oom Evvie vir hom dat die Eloffs op die dorp belangrike gaste het. Glo ’n sir van Engeland, en Wessel Eloff het die beste braaier van skaapvleis gesoek om die sir te onthaal.

Op Springbok was dit bekend die plaasklong genaamd Manfred Hugo braai ’n hond uit ’n bos en ’n skaap tot reg binne-in die hemel. Manfred was onbelangstellend, want hy wou Saterdagaand onder die dooie maan sterre by Aggenys gaan kyk. Toe skuif oom Evvie sy hoed op tot bo sy voorkop en sê: “Toe nou, man, jy kan mos nie vir Peggy en haar ou pa alleen vir die sir laat sorg nie. Hy’s ’n belangrike Engelsman, die sir — hang uit met die koningin en die prins en daai lady Di-vrou.”

Net daar het Manfred begin wonder of hy ’n langbroek moes aantrek vir die aand op Springbok. Die sir, hoor hy by oom Wessel toe hy by die huis teen die koppie aankom, was Brittanje se ambassadeur in Amerika wat aanstaande jaar na Suid-Afrika verplaas word. Die sir se stokperdjie is vetplante en hy het in afwagting van sy verblyf in die land deur Namakwaland en die Richtersveld kom reis om hierdie vetplant-paradys te leer ken.

Op die stoep wat oor die dorp se flou liggies uitkyk, het ’n groot doringhoutvuur gebrand, en by ’n tafel was ’n lang, skraal gryskop-man met ’n goueraambril wat stadig opgestaan het om Manfred se hand te skud. Manfred het nie geweet wat om te sê nie. Miskien moes hy oor prinses Di vra, wat onlangs van die prins geskei is. Maar toe kom Peggy Eloff kaalvoet uit die huis gestap, met blou jeans en ’n wit T-hemp, en Manfred kon glad nie onthou waar hy was en waarom hy daar was nie, wat nog van iets vir die sir vra in sy vernielde Namakwaland-Engels.

“Kom jy nou saam met my kombuis toe, meneer Braai,” het Peggy vir hom gesê, singend, glimlaggend, en hulle is die huis in om na die vleis te gaan kyk. ’n Staalskottel het op die kombuistafel gestaan met ’n mooi stuk rooibruin skaapvleis daarin.“Dit is ’n lamsboud — Dorper — ontbeen en natgemaak met wyn, olyfolie en sojasous,” het sy vertel en toe opgekyk na hom. Asof hierdie vrou nou werklik sy´ goedkeuring nodig het.

Manfred het net sy kop geknik, hoewel hy nie geweet het wat sojasous is nie. Op die stoep het hy die kole oopgekrap, terwyl die sir en oom Wessel wyn gedrink en gesels het. Toe Peggy uitkom en hom vra of sy die vleis kan bring, het hy net “ja” gesê en die koel glas bier by haar geneem en “dankie” gesê. Al wat kort om hierdie aand perfek te maak, het hy gedink, was prinses Di wat deur die strate van Springbok aangery kom.

Alleen, en in ’n vergulde koets. Hy het behendig die laag warm kole oor die Eloffs se ruim vuurherd uitgekrap en die pote van die staanrooster oor die kole geplaas. Die sir het nader aan die herd kom staan. Peggy was by met die vleisbak wat sy langs die herd gesit het, terwyl sy die sir vertel hoe Namakwalanders hul vleis graag in die buitelug, soos hier, oor die kole braai. Manfred het sy bier neergesit en oorgeleun om die ontbeende skaapboud met een hand op te tel.

Miskien was dit Peggy se teenwoordigheid of dalk die effense senuwees wat die lang, statige vorm van die sir veroorsaak het. Maar waarskynlik was dit die olyfolie aan die vleis. Die volgende oomblik glip die skaapboud uit Manfred se hande en val op die oop rooster en spring van die rooster tot binnein die bed rooiwarm, gloeiende kameeldoringkole.

Asof dit nie erg genoeg was nie — die Eloffs se vleis wat voor die sir in die kole en as beland — slaan die spul sommer aan die brand. Die sir spring terug in skrik vir die kole met ’n uitroep van “crikey!”, terwyl Manfred en Peggy kyk na hoe die skaapvleis in die vlamme skroei. Manfred voel hoe die aarde onder hom oopgaan en hy hoop waarlik dit sluk hom in en gooi hom ook neer op die warmste, helste, brandende vlamme. Toe hoor Manfred die lagstem van Peggy.

“Sir, jy moet kom kyk,” sê Peggy. “Dit is ’n regte Namakwalandse manier van vleisbraai.” Sy neem die tang uit Manfred se hand en druk dit deur die vlamme tot teen die brandende lamsboud. “Manfred is ’n ekspert. Sien, jy skroei die skaap sommer binne-in die vuur. Dit verseël die vleis, hou die sappe in en gee ook so ’n heerlike kors.” Manfred sien hoe sy vir hom knipoog, haar blonde hare so rooigoud soos ’n woestynsonsondergang in die vlammelig.

Manfred neem die tang, draai die boud nog een keer in die vlamme, en plaas die vleis toe op die rooster – waar dit van die begin af moes gewees het. Die sir het in stille betowering na die proses gekyk. Byna ’n uur lank het Manfred die vleis bedrup met Peggy se mengsel, die boud op die rooster rondgeskuif en die koel streling van Peggy se vinger gevoel wanneer sy vir hom nog ’n glasie bier bring.

Onder die ligte van die eetkamertafel was die boud effe aan die donker kant, maar toe oom Wessel dit in skywe sny, was die binneste pienk en sag, met die vleissappe wat daaruit vloei. Dit was net minder as ’n jaar later toe oom Evvie vir Manfred aan die ontbyttafel vertel dat die foon gisteraand gelui het en dat ’n Engelse vrou gevra het of Manfred die nommer kan bel en vir Madlyn vra. Dit is belangrik.

Dit was die nommer van die Britse ambassade, en Madlyn wou weet of Manfred dalk, net dalk, oor twee weke bereid sou wees om te kom braai by die huis van die sir. Ja, daardie sir, nou ambassadeur en hy wat “so beïndruk was” met die Namakwalandse braaitegniek. Manfred het baie teruggedink aan daardie aand by die Eloffs.

Maar nooit aan die vleis wat in die vlamme brand nie. Net aan Peggy. “Sir sal jou hulp werklik waardeer, meneer, want daar gaan belangrike gaste uit Engeland wees en hy wil hulle graag ware Suid-Afrikaanse kookkuns wys.” Só is Manfred op Springbok se vliegveld in ’n klein vliegtuig kom haal. Nie dat hy die verskil tussen ’n kleintjie en ’n grote sou ken nie, want dit was die eerste keer dat hy een in die werklikheid sien.

Minder as ’n uur later het die vliegtuig in Kaapstad geland en is hy gery na ’n paleisagtige wit huis met ’n groen tuin vol bome en struike. Die sir het hom self verwelkom en na ’n oornagkamer gewys. Daarna is Manfred na die kombuis waar hy die personeel gehelp het om vier skaapboude te ontbeen en te laat lê in Peggy se sous soos wat hy onthou: wyn, sojasous en olyfolie. Teen skemer het hy die vuur aangesteek en seker gemaak dit bly hoog gepak.

As hy vanaand die “Namakwalandse braaitegniek” moet toepas, soos verlede keer se ongeluk, moet daar genoeg kole weerskante van die rooster wees. Die gaste het stuk-stuk aangekom. Hy het by die vuur bly werskaf en opgelet dat die mense meestal ouer mans en vroue was. Juwele wat skitter; die mans in mooi, duursame baadjies sonder dasse. Almal Engels, natuurlik.

Die onthaalarea het voller geraak, die vuur het laer gebrand en die Engelse stemme het vroliker geraak soos die mense uit langsteelglase drink en klein broodjies eet wat die diensmeisies aangedra het. Manfred het die kole ’n laaste keer oopgekrap. Toe hy omdraai om die vleis te gaan haal, staan sy voor hom.

So mooi soos altyd. Lang vingers om ’n wynglas. Die laaste son in haar hare. Die sprankelende glimlag en die vonkel in haar stem. “Hallo, Manfred,” het sy gesê. “My naam is Diana. Ek het so baie van jou gehoor...”