Dié werklikheidsreeks het sedert die eerste reeks in 2007 vir talle Suid-Afrikaanse boere liefde gevind. Oor die afgelope 12 reekse is 17 paartjies wat mekaar deur Boer Soek ’n Vrou ontmoet het, al getroud.

Boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat deel wil wees van die dertiende seisoen, kan nou inskryf vir vanjaar se reeks wat deur die nuwe aanbieder, Marciel Hopkins, aangebied sal word.

Hopkins glo die nuutste reeks sal die deelnemers se lewe verander. “Boere gaan mense ontmoet wat hulle nooit andersins sou nie en die mooiste van alles is dat een van hulle jou lewensmaat kan wees,” sê sy. “Die proses is ’n lekker geleentheid om iets buite jou gemaksone te doen, maar dit gaan ook jou hart laat vinniger klop, vir jou selfvertroue gee en jou bemagtig in die proses.”

Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel. Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees. Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 21 Maart 2020 bereik. Die tien gekose boere sal teen 19 April 2020 in kennis gestel word.

Hou kykNET se sosiale media of die media dop vir die aankonding oor 2020 se tien deelnemers. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf. Die dertiende reeks sal vanaf Oktober op kykNET uitgesaai word.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

• Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai.

• Bel Marche Media by 079 335 5137.

• Stuur ’n e-pos na boer@marche.media (let wel .media en nie .com of .co.za nie).