Honderde voedselmarkte vind elke week in Suid- Afrika plaas. Waarom is ver- bruikers in die Middelland van KwaZulu-Natal dan so opgewonde oor ’n klein bemarkingskring bekend as Reko?

Daar is talle redes. Reko-kringe is ontwerp om die plaaslike ekonomie te laat groei deur klein, plaaslike boere toegang tot markte te gee, terwyl verbruikers regstreeks toegang tot vars, plaaslike produkte teen bekostigbare pryse kry.

Dié Finse konsep, wat “regverdige verbruik” beteken, is in 2018 in Suid-Afrika bekend gestel deur die pluimveeboere André en Kaitlynn Kauerauf, wat in die Middelland boer. Daar is tans twee Reko-kringe in die Middelland, naamlik Howick en Hilton.

“Hierdie kringe plaas die klem op vars, plaaslike, organiese produkte met die minimum verpakking. Eerlikheid en deursigtigheid is die belangrikste kenmerke van ons boere. Hulle word verantwoordbaar gehou. Verbruikers kan hulle in die oë kyk en uitvind wat presies in hul kos ingegaan het,” sê Nikki Brighton, vrywillige administrateur van Reko.

Die Reko-kring op Howick het tot 15 boere. Die organiseerders gebruik ’n deurry- formaat met minimale kontak om tydens die inperking steeds te kan sake doen. Foto’S: ROBYN JOUBERT

Die weeklikse Reko-mark vind op ’n geslote Facebook-groep plaas. Boere adverteer hul voorraad op Facebook en verbruikers antwoord om bestellings te plaas. Daar is geen middelman nie – elke boer behartig sy of haar eie bestellings.

Die partye kom dan by die weeklikse afleweringspunt bymekaar. Die afleweringstyd is gekies om werkende mense te pas en is tans op Donderdae op Howick van 13:00 tot 14:00 en op Hilton van 15:30-16:30.

Hierdie kort afleweringstyd pas die besige boere wat so kort moontlik van hul plase weg wil wees, maar steeds die geleentheid kry om verhoudings met hul klante te bou en wenke met ander boere uit te ruil. Verbruikers wat etiese inkopies in hul besige skedule moet inpas, hou ook daarvan.

Megan Woods (links) van die plaas Essenwood en die Reko-vrywilliger Nikki Brighton. Megan verkoop vars melk en maak jogurt, maas, kaas en botter. Sy is ’n voorstander van koei-met-kalf-melkboerdery, wat beteken sy neem nie kalwers van hul ma’s weg ná geboorte nie en melk net een keer per dag tot die kalf gespeen is. “My klante betaal meer vir melk wat van gelukkige koeie kom.”

Volgens André is die bestelstelsel sinvol vir produsente. “Hulle neem net die produkte wat hulle op Facebook verkoop het, na die afleweringspunt. Dit beteken hulle hoef nie onnodige voorraad saam te karwei nie, soos onverkoopte hoender wat in die son bederf of spinasie wat verwelk nie.

“Reko is vir ons die gerieflikste, doeltreffendste en lonendste bemarkings- en verkoopsmodel. Dit gee ons in werklikheid meer tyd om kos te produseer.”

Nikki sê vir haar is die beste ding van Reko dat ’n mens weet die kos is seisoenaal. “Witwortels is byvoorbeeld net drie of vier weke van die jaar beskikbaar. Dit is ’n groot bederf om dit te kan kry. Ek is ook dol daaroor dat kleiner boere meer geneig is om ongewone en erfeniskultivars, soos Cascade-krulkool en lietsjietamaties, te kweek.”

Selfs as ’n boer net klein volumes het om te verkoop – dalk vyf bossies radyse of tien bottels heuning – het hy of sy steeds toegang tot ’n mark. Daar is ’n streng aansoekproses, en boere word gekeur voordat hulle op Reko se Facebook-blad mag handel dryf. En verbruikers, wat ál meer bewus is van die oorsprong van hul voedsel, hou daarvan.

Besoek www.bramleigh.co.za/blog/2019/ 02/08/what-is-reko of stuur e-pos na rekomidlands@gmail.com vir meer inligting oor die werking en opstel van ’n Reko-kring.