Jy het destyds onthale in Pretoria beplan, en nou woon jy op Steynsburg. Is dit danksy die liefde?

Ja, ek is gebore en het skoolgegaan op Ventersdorp. Ná skool het ek voedseldiensbestuur gestudeer en tien jaar lank (van 1993 tot 2003) onthale beplan vir die burgemeester van Pretoria. Ná ’n warrelwind-romanse van sowat vier maande is ek en Roelof, ’n veeboer (Dorpers en Nguni’s), getroud. Ons tweeling is vanjaar in graad 7 en gaan in Bloemfontein skool.

Wat het jou gemotiveer om Karooplaas te begin?

Die gebou behoort aan my skoonma, wat die ruimte langs die Caltex-vulstasie wou verhuur. Die ruimte was voorheen ’n vertoonlokaal vir motors, maar staan al jare lank leeg. Die tweeling is al in graad 2 koshuis toe en ek was eintlik ’n bietjie verveeld by die huis. Ek was nog altyd lief vir kos en mooi dinge en het daarvan gedroom om ’n deli te begin. Dít was my inspirasie.

Kon jy jou destyds die sukses indink?

Nee, dit het my wildste drome oortref. Ons het in ’n Desember – vakansietyd – oopgemaak. Die hoeveelheid mense wat by ons aangedoen het, het ons nie net op ons tone gehou nie, maar ook gedwing om aan te hou en uit te hou. Die mense se reaksie op my produkte het my net na groter uitnemendheid laat streef.

Jy kan by Karooplaas geskenke koop wat plaaslik vervaardig of met groot sorg uitgesoek word. Die gewildheid van ons kos het my ook aangemoedig om nuwe produkte en resepte te ontwikkel. Ons verkoop byvoorbeeld die beste pekanneuttertjies in Suid-Afrika!

Wat is deurslaggewend tot dié sukses?

Ons gebruik net die beste bestanddele. Ons glo ook nie in kortpaaie nie. Daarom getuig ons produkte van die hoogste gehalte. Ons tuisbereide produkte word in ons winkel se kombuis gemaak om varsheid en gehalte te waarborg. Aangekoopte produkte (soos beskuit en koekies) word noukeurig uitgesoek.

Ons bied ’n groot verskeidenheid waaruit mense kan kies, en voeg graag nuwe produkte by. Dit alles dra daartoe by dat dit nie nodig is om bemarking te doen nie – ons produkte verkoop hulself.

Jou werknemers speel ook ’n belangrike rol.

Ja, ek kry daagliks komplimente oor die personeel. Hulle is optimistiese, vriendelike en hardwerkende mense wat graag hulself wil bemagtig. Ek neem agt mense heeltyds en ses mense deeltyds in diens. In Desember span ons selfs meer deeltydse werkers in.

Ek het hulle allerhande vaardighede geleer – van pasteie bak en tertjies maak tot tydbeplanning, werksmetodiek, spanwerk en hoe om met selfvertroue en trots ons produkte te verkoop. Sjef Suné Niemand van Bloemfontein kom gee nou en dan vir ons opleiding. Van die werknemers is al bevorder tot die kasregister, bakster en assistent-bestuurder.

Ek en die personeel het ’n baie goeie verhouding. Ons kombuis is goed toegerus, wat dit lekker maak om daar te werk. As ’n span hou ons mekaar gemotiveerd en help ons mekaar sodat niemand die span in die steek laat nie. Ons hou gereeld vergaderings sodat elkeen haar mening kan lug en voorstelle kan maak. Ons bespreek altyd eers nuwe idees of veranderinge.

Is daar interaksie tussen jul boerdery en die winkel?

My onderneming help natuurlik om ons uitgawes te dek. Ek gebruik ook van die boerderyprodukte – vleis, groente uit die tuin en my vrylopende hoenders se eiers – in die winkel.

Was dit aanvanklik moeilik om Karooplaas te finansier?

Roelof het my uit die boerdery gefinansier en my skoonma het vir die bou- en breekwerk betaal.

Watter rol speel Karooplaas in jul gemeenskap?

Dit skep werk vir plaaslike mense, maar dit bied ook geleenthede aan die gemeenskap se mense om produkte aan die winkel te lewer. Ek verkoop graag produkte uit die omgewing, soos my buurvrou se biltong en droëwors of geskenke wat plaaslik vervaardig is.

Karooplaas ondersteun ook ander ondernemings op die dorp, want ek koop produkte by hulle aan (soos brood by die plaaslike bakkery).

Watter raad het jy vir ander plattelandse vroue wat hul eie ondernemings wil begin?

Beplan, beplan, beplan! Delegeer en aanvaar hulp.

NAVRAE: E-pos: karooplaas@gmail.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.