Dis snoekkoppe. Oopgekloof en liggies met sout en peper besprinkel. ’n Skeut vars suurlemoensap en matige kole en . . . voila! 

As klein dogtertjie was die snoekkopbraaiery vir my ’n bron van groot onsteltenis. Die aand nadat ons die lekker snoek met ’n sousie van botter, appelkooskonfyt, knoffel en vars suurlemoensap gebraai het, het die snoekkop te voorskyn gekom.

Ek moes aan tafel sit en toekyk hoe my pa met groot genoegdoening eers die vis se wangvleis eet en dan – die pièce de résistance – die jellierige visoë met sy mes se punt uit die oopgekloofde viskop lig en smaaklik opeet. Hoe meer ek gegril het, hoe meer het my pa gelag. 

“Dit is die lekkerste deel van die snoek!” het hy gereeld laat hoor. 

Ek het intussen al my moed bymekaargeskraap en die wangvleis geëet. Dit, sal ek erken, is lekker. Maar ek was nog nooit dapper (of honger) genoeg om ’n vis se oog te eet nie. 

Kleintyd het smouse uit die Kaap wat vrugte en groente op die plaas kom koop het, in die winter dikwels vars, vet snoeke saamgebring.

Daar was vir my min dinge so lekker soos ’n gebraaide snoek, effens rokerig van die suikerhoutkole waarop my pa gebraai het, en goed gedokter met my ma se spesiale snoeksous van botter, lekker baie suurlemoensap, knoffel en tuisgemaakte appelkooskonfyt. Daarby was daar dik snye van ons huishulp Hester se warm plaasbrood met botter en korrelkonfyt of heel, gebakte soetpatats.

Van die oorskietvis is viskoekies of – nóg ’n gunsteling – smoorsnoek gemaak. My ma het uie stadig in botter gebraai tot dit soet en sag was, en daarna blokkies aartappel en ’n bietjie water bygesit. Sy het dit goed gegeur met sout en peper en gestowe tot amper sag.

Daarna het die gevlokte, gebraaide snoek bygekom, met lekker baie suurlemoensap en vars, gekapte pietersielie. Dan sit jy die deksel op en stowe alles tot ’n perfekte geheel. Ons het die smoorsnoek op rys geëet, met gepiekelde komkommerslaai daarby. Heerlik!

Deur die jare het ek ’n hele paar artikels met snoekresepte in Landbouweekblad gepubliseer, maar die een wat my bybly, is die dag toe ek en my kosfotograaf, Berna Coetzee, so gesukkel het om ’n paar snoeke aan die Weskus te koop. (Ek vertel die storie weer hier.)

Ná ’n volle dag op die hawe is ons so ampertjies met leë hande huis toe, tot Landbouweekblad in ’n onverwagse wending tot my redding gekom het en gehelp het dat ek ’n paar vars snoeke by ’n kwaai visserman as geskenk gekry het.

Terug by die toetskombuis het ek met daardie snoeke al my kindertydse gunstelinge kom kook, waarvan die resepte ook hier verskyn. As jy ’n lekker vars snoek of drie in die hande kan kry, probeer sommer hierdie naweek een van dié resepte. 

Koop só die nuwe Boerekos
Jy het 'n paar opsies om Boerekos 12 (Winter 2018 Overberg) te koop. Die tydskrif word in talle winkels versprei en is reeds beskikbaar. Indien jy nié die tydskrif in jou plaaslike winkel kan kry nie, stuur 'n epos na johan.terblanche@Media24.com om dit te bestel. Jy kan ook die tydskrif koop in die Landbou-winkel óf die digitale weergawe op MySubs.