Met haar ouma se naaimasjien en ’n paar kreatiewe planne het Jacoline Marais van The Learning Box haar onderneming oopgestik. Sy maak handgemaakte opvoedkundige speelgoed van lap wat landwyd gewild is.

Hoe het die idee vir The Learning Box ontstaan?

Ek het ’n naaimasjien by my ouma geërf en speelblokkies vir vriendinne se ooievaarsteepartytjies begin maak. Almal was gaande daaroor. Kort daarna het ek lapboekies begin maak. Sowat twee jaar gelede het die idee posgevat om ’n stimulerende mat te ontwerp waarop babas op hul magie neergesit kan word. Die idees vir speelgoed wat babas en kleuters se sensoriese en fyn motoriese spiere ontwikkel, het net begin vloei en die besigheid het stelselmatig gegroei. Alles wat ek van naaldwerk weet, het ek vir myself geleer deur rond te speel en te oefen.

Hoe maak jy mense bewus van jou produkte?

Sosiale media, soos Facebook en Instagram, is vinnig, gratis en word deur mense landwyd – en selfs oor die wêreld heen – gesien. Mense wat vir ander van my produkte vertel, bly egter die beste manier van bemarking en ek kry die meeste van my bestellings deur verwysings.

Daar is strawwe mededinging in die kinder- en babamark. Wat maak The Learning Box uniek?

My produkte word met die hand gemaak en niks word in groot maat vervaardig nie. As ’n klant my kontak, sal ons gesels oor die kleurskema, hul kind se behoeftes en enige spesifieke vereistes wat hulle het. Die klante raak dus deel van die proses om ’n unieke speelding vir hul kind te laat maak. Hulle kan dit jare lank gebruik en bêre om ’n erfstuk te word.

Is dit maklik om só ’n onderneming van ’n plaas af te bedryf?

Ek is ’n eenvrousaak wat alles self behartig – van die ontwerpe, uitknipwerk en bemarking tot pakkies opmaak en aankope. Ek maak seker ek gebruik alle beskikbare tyd produktief. As ek in die bakkie langs die sportveld sit en wag vir my kinders om klaar te oefen, knip ek goed vir die volgende bestelling uit.

Aanvanklik het ek heeltyds op die plaas (ons boer met rooibostee, druiwe, steenvrugte, sitrus en vee op Oudam-boerdery) in die kantoor gewerk en kon dus op my inkomste staatmaak om die benodigdhede aan te skaf waarmee ek die onderneming begin het.

Aangesien ek van die huis af werk, is dit soms moeilik om af te skakel en tussen die pligte van werk, ma- en vrouwees te onderskei en seker te maak ek gee genoeg aandag aan almal en alles sonder dat iets afgeskeep word. Vanjaar werk ek volgens vaste tye en ek onderneem om daarby te hou. Só kan ek my onverdeelde aandag aan alles gee en dit behoorlik geniet.

Dié sensoriese boekie hou klein vingertjies besig.

Verloor ’n mens nie soms moed as jy op jou eie werk nie?

Elke keer wanneer ek goeie terugvoer van ’n klant kry en hoor hoe lekker hul kinders met my produkte speel, besef ek opnuut hoe baie ek hou van wat ek doen. Dit is nie net my werk nie, maar ook my gunsteling-stokperdjie.

Wat is die rede vir jou sukses?

Harde werk en kreatiwiteit. Toe ek met die besigheid begin het, was dit om ’n ekstra inkomste te verdien. Ek het heeltyds gewerk en was ook ’n nuwe mamma. Eers wanneer die kinders in die bed was, het ek tot laatnag gewerk om bestellings klaar te maak.

Wat het jou grootste mislukking jou geleer?

Dit het my geleer om nooit in myself of my vermoëns te twyfel nie.

Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

Kennis is krag. Ek doen gereeld navorsing oor sensoriese en fyn motoriese ontwikkeling. Só ontwikkel ek voortdurend nuwe idees en verbeter my produkte.

NAVRAE: Stuur WhatsApp na 084 588 4782; e-pos thelearningtoybox101@gmail.com; besoek
Facebook en Instagram by @thelearningtoybox.