Die aftel na Kersfees het begin en elke dag as jy ’n koerant oopslaan of die TV aanskakel, word jy gebombardeer met nog meer advertensies vir “eenkeer-in-’n-leeftyd” se winskopies.

Die een winkel is blinker opgetooi as die volgende en daar is ’n koorsagtige atmosfeer in die lug soos mense rondskarrel om alles gekoop te kry. Terwyl hierdie tyd van die jaar eintlik ’n tyd moet wees waar ons moet afskaal en afskakel, en meer gehaltetyd met mekaar deurbring, voel dit elke jaar of ons net meer gejaag en besiger is.

Vanjaar is my voorneme om die winkels so ver ek kan te vermy. Pleks van ’n boks winkelsjokolade of ander gekoopte lekkernye kry vriende en familie vanjaar ’n geskenk uit my kombuis. Iets wat spesiaal vir hulle gemaak is.

Op my lysie is ’n donker, ryk Kerskoek, rypgemaak met goeie brandewyn, ’n bottel selfgemaakte suurlemoenlikeur met ’n paar resepte vir hoe om dit in mengeldrankies te gebruik, ’n fles amber vanielje-ekstrak en ’n mooi blik met selfgemaakte sjokoladetruffels.

Kleintyd het een van my ma se vriendinne elke jaar voor Kersdag ’n reuse-, varsgebakte Stollen, swierig in blink selofaan toegedraai en met rooi Kersfeeslint vasgestrik, by ons op die plaas kom aflaai.

Dié Kersfeesbrood was amper te mooi om te eet, maar die gebaar van tannie Maureen, om iets wat sy self spesiaal vir ons gemaak en so mooi verpak het op die plaas te kom aflewer, bly my vandag nog by.

Dít is immers waaroor hierdie tyd van die jaar gaan. Om om te gee vir mense, om iets van jouself te gee.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.