Die Springbok- en Stormersvoorspeler Frans Malherbe bederf die plaaswerkers van die plaas Kruidfontein by Murraysburg jaarliks met van sy truie en klere wat hy nie meer gebruik nie. “Die werkers waardeer dit baie en is al groot ondersteuners van Frans. Hulle is nou al redelik uitge-kit met Springbok- en Stormersklere,” verduidelik Michiel Herholdt, mede-eienaar van Kruidfontein.

Volgens mnr. Piet Blom, een van die plaaswerkers wat al ’n paar kledingstukke in sy versameling het, is hy baie bly daaroor. “En ek wil net graag vir Frans sterkte toewens vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi later vanjaar,” voeg hy by.

Volgens Herholdt het Malherbe die klere uit sy eie aan die werkers begin uitdeel. “Dit is natuurlik ’n great gebaar van sy kant af en die plaaswerkers dra sy klere met trots.”

belangstelling op die plaas

Herholdt, een van die vier Herholdt-broers aan wie die plaas behoort, sê Malherbe kom gereeld op Kruidfontein en kom al verskeie jare om op die plaas te kom jag.

Die Herholdt-broers was saam met Malherbe, wat op Bredasdorp grootgeword het, in die Hoër Jongenskool Paarl (Boys High). Malherbe is wel heelwat jonger as die broers. Malherbe was ook kaptein van die skool se eerste rugbyspan.

Malherbe stel glo baie in die plaasbedrywighede belang en vra gereeld uit oor hoe dit op die plaas gaan en wanneer laas dit gereën het. Kruidfontein is ’n familieplaas van die Herholdt-familie en daar word hoofsaaklik met Merinoskape, Angorabokke en kruisrasbeeste geboer. Daar is altesaam 13 wildsoorte op die plaas. Hulle bied jaggeleenthede vir oorsese sowel as plaaslike jagters.

Die plaas word tans bestuur deur Juanita Bellingan. Sy was verlede jaar ’n finalis in die Wes-Kaapse afdeling van die Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.