Sy naam word in dieselfde asem as die wêreld se bekendste sjefs genoem en sy kreatiwiteit slaan mense stom. Binne net twee jaar sedert Jan Hendrik van der Westhuizen die sprong gewaag het om JAN, ’n restaurant in Nice (aan die Franse Riviera) te open, het daar boonop iets gebeur waaroor hy nooit eers durf droom het nie: Hy het ’n Michelin-ster gekry, daardie waarmerk van eersteklas-fynkos.

Hy was die eerste – en tot dusver die enigste – Suid-Afrikaner wat dit nog kon regkry. Jan Hendrik mag ’n eietydse kos-ikoon wees, maar hy bly die outjie van Middelburg in Mpumalanga, wat verkies het om saam met sy ma troukoeke te versier pleks daarvan om die gewone plattelandse manneplesiertjies, soos rugby en jag, op te soek.

Die afgelope paar weke al volg Via-kykers (kanaal 147) Jan Hendrik se reis deur Apricale, ’n piepklein Italiaanse dorpie wat sowat 40 minute van Nice af geleë is. Dit is die plek waar dié perfeksionis naweke kan ontspan, sy obsessies oor skoon tafeldoeke en die hoek waarteen kelners wyn skink, kan laat vaar en waar hy ámper voel hy is by sy ouerhuis op Middelburg, waar sy ma hom witsous, mosterdringe en bobotie leer maak het.

Malvapoeding en bobotie verskyn gereeld op JAN se spyskaart – maar in effens getemperde formaat vir die Franse palet. “Ek verduidelik altyd vir mense wat die skakel tussen Suid-Afrikaanse kos en die Franse Hugenote of die Hollanders is. Die Franse het byvoorbeeld in die 1600’s brioche na Suid-Afrika gebring, maar ons het die eiers uitgehaal, meer botter en anys bygesit en gebruik mos as rysmiddel,” het hy tydens die bekendstelling van JAN (die TV-reeks) vertel.

Een van sy bekende (en beeldskone) geregte is juis mosbolletjies met ’n kaiing-kers, wat stadigaan smelt. “Daar is vir my niks beter as wanneer ’n Fransman daarvoor vra nie!”

'Soggens eet ek slappap; dis my ritueel. En as jy my yskas oopmaak, kry jy Mrs Ball’s daar binne. Dit is maar net so.'

Hy is geweldig trots op sy boere-erfenis. “As jy jou restaurant JAN noem, kan jy nie wegkom van die Suid-Afrikaanse narratief nie. Dis deel van my, dis wie ek is. My ma het altyd vir my gesê ek moet hou by wat ek ken en waarmee ek bekend is. Ek dra vandag steeds dié raad in my agtersak saam. Soggens eet ek slappap; dis my ritueel. En as jy my yskas oopmaak, kry jy Mrs Ball’s daar binne. Dit is maar net so.”

Ja, pa Boet, ’n boer, het gehoop sy laaitie wil trekker ry en rugby speel, maar van jongs af was Jan Hendrik meer geïnteresseerd in wat sy ouma Hessie en (wyle) ouma Wes en ma Hester Maria in die kombuis doen. “Ek het rugby gespeel en twee keer my arm gebreek! Dit bly steeds vir my sensitief en ek praat nie graag daaroor nie, maar dit was vir my so bevredigend toe my ouers vir my in Frankryk kom kuier en hulle eet by JAN en ek kan sien hoe tevrede hulle met alles is.”

Hy het nou die restaurant én die ster, twee besonderse kookboeke en ’n eie TV-reeks. Watter drome wink nog? “Ek mis Suid-Afrika te veel. Ek wil graag terugkom. Die kos is nie die probleem nie – ek kan biltong en alles self in Frankryk maak – maar ek mis my mense. Jy kan kos en wyn hê, maar sonder die mense is die partytjie nie voltooi nie. JAN is op pad Suid-Afrika toe, hou jou oë oop daarvoor . . . maar meer gaan ek nie verklap nie.”

  • Kyk JAN op Via (kanaal 147) op Woensdae om 19:30 en Sondae om 20:30.