Verskeie lesers het navraag gedoen oor die moontlike afname in swartvlerkkorhaan-getalle en verklarings daarvoor probeer soek. Hierdie voëls het voorheen algemeen in die Kaapse provinsies voorgekom, maar vandag word hulle selde gesien.

Die status van die swartvlerkkorhaan (Afrotis afra) word amptelik as kwesbaar beskryf. Die mannetjie het ’n swart nek en kop met ’n kenmerkende wit kol op die wang. Die lyf en vlerke is geband in bruin en swart.

Die wyfie is ietwat kleiner en slegs haar pens is swart. Sy is dus beter gekamoefleer en dit verklaar waarskynlik waarom die mannetjie baie meer gereeld gesien word. Hulle vreet hoofsaaklik plantmateriaal, insekte en klein reptiele.

Die nes word gewoonlik onder ’n bos versteek om dit teen roofdiere te probeer beskerm.

Verskillende spesies

Dit is belangrik dat die swartvlerkkorhaan van die witvlerkkorhaan (A. afraoides) onderskei word. Tot so onlangs as die eeuwisseling is slegs die swartvlerkkorhaan in die literatuur beskryf. Daarna is bevind dat die witvlerkkorhaan in die droër noordwestelike dele van die land voorkom.

Die swartvlerkkorhaan is endemies aan Suid-Afrika en kom in die drie Kaapse provinsies voor. Die verspreiding van die twee soorte oorvleuel wel in dele van die Oos-Kaap en daar is aanduidings dat die twee soorte wel daar verbaster.

In die algemeen lyk die twee spesies dieselfde. Dit is eintlik net wanneer hulle vlieg dat die kleur van die vlerke baie opsigtelik is en die verskille dan raakgesien word. Die swartvlerkkorhaan kom in Karoo- en fynbos-habitatte voor en het veral ’n voorliefde vir renosterveld.

Die voëls sal ook landerye benut wanneer natuurlike plantegroei skaars is. Navorsing toon wel ’n afname in die getalle van hierdie voëls aan, veral in die Swartland en Overberg. Vergelykende data van sensusopnames toon aan dat daar ’n grootskaalse afname in getalle van 1992 tot 2010 was.

Dit word ook deur ander navorsing bevestig en ’n ontleding van sensusopnames tot en met April 2013 bevestig dat hierdie proses versnel. Moontlike oorsake daarvoor is die vermindering van natuurlike habitat, die vermeerdering van vleisvreters, soos die witborskraai, en klimaatsverandering.

Minder renosterveld beskikbaar

Die verlies aan natuurlike habitat aan die landbou en bosbou word as die belangrikste bedreiging vir die swartvlerkkorhaan beskryf. Die toename in die verbouing van landbougewasse in die Swartland en Overberg veroorsaak dat daar minder natuurlike veld en veral renosterveld beskikbaar is.

Opnames toon duidelik aan dat hulle verreweg natuurlike veld verkies, hoewel swartvlerkkorhane wel in landerye aangetref word. Die fragmentering van die oorblywende stukke natuurlike veld vererger die probleem.

Die broeisukses van die korhane neem waarskynlik af weens die verminderde beskutting wat natuurlike veld bied. Veral eiers en kuikens is dan kwesbaarder vir onder meer witborskraaie. Die rol van klimaatsverandering moet ook nie onderskat word nie.

Voorspellings toon aan dat die streek waar swartvlerkkorhane voorkom in die toekoms ernstig en ongunstig deur klimaatsverandering beïnvloed gaan word.

Navorsing nodig

Dis duidelik dat meer gedetailleerde navorsing nodig is om ’n beter begrip vir die status van die swartvlerkkorhaan te ontwikkel. Daarmee saam behoort oorsake van die afname in getalle beter begryp te word om sodoende moontlike regstellende stappe te ontwikkel.

Die deurlopende monitering van getalle sal ook ’n belangrike komponent van toekomstige navorsing uitmaak. ’n Aantal organisasies skenk aandag aan hierdie probleem. Die Overbergse Kraanvoëlgroep spits hom nie net op bloukraanvoëls toe nie, maar ook op ander bedreigde spesies, soos die kransaasvoël, sekretarisvoël, breëkoparend en swartvlerkkorhaan.

Die groep werk saam met ’n aantal vennote, soos die Overbergse Renosterveldbewaringstrust, om die beskerming van die spesies te probeer aanpak. Opvoedkundige ondersteuning word aan boere gebied om konflik met die voëls en ander diere sinvoller te hanteer.

Die bevolkingsgetalle van hierdie voëls word op verskeie maniere ingewin om ’n beter begrip van neigings en bedreigings te vorm. Die bewaring van die oorblywende stukke natuurlike veld – en veral die korrekte bestuur daarvan – is die belangrikste doelwit van hierdie organisasies.

Hierdie doelwitte word bereik deur die uitbou van gesonde verhoudings en samewerking met belangegroepe, wat boere, nie-regeringsorganisasies en die staat insluit. Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg en die Wes-Kaapse Voëlforum.

Hy woon op Hermanus. navrae: Kontak Keir Lynch van die Overberg Kraanvoëlgroep by support@bluecrane.org.za of sel 084 369 0969 en dr. Odette Curtis van die Overbergse Renosterveldbewaringstrust by info@overbergrenosterveld.org.za en www.overbergrenosterveld.org.za.

Ondersteun dié organisasies deur by hulle aan te sluit. ‘n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.