Die bedreigde protea Mimetes stokoei was waarskynlik altyd op die rand van uitsterwing omdat dit in ’n baie beperkte gebied in die Kogelberg in die Wes-Kaap voorkom.

Die oes van blomme vroeg in die 20ste eeu het waarskynlik ook tot die vermindering van dié protea bygedra. Van 1922 tot 1959 het Thomas Stokoe byvoorbeeld net tien blomdraende plante gevind.

Teen die laat 1960’s is vermoed dat die Mimetes stokoei uitgesterf het, en botaniste het dekades lank dié spesie se verdwyning betreur. Tot groot vreugde van die botaniese gemeenskap is 24 jong Mimetes stokoei-plante weer in 2001 in die Kogelberg-biosfeerreservaat ontdek.

Liefde vir plante

Die Brits gebore Thomas Stokoe het in 1911 op 43 jaar na Suid-Afrika geïmmigreer en het as litograaf by die koerant Cape Times begin werk. Die verskeidenheid inheemse blomme wat in Adderleystraat in Kaapstad verkoop is, het hom verstom, en hy het in die veld daarna gaan soek.

Gou het hy plante vir verskeie botaniese navorsingsinstellings begin versamel en die meeste van sy tyd in die Kogel- en Hottentots-Hollandberg deurgebring.

Sy liefde vir plante is ongetwyfeld aangewakker deur die prag van die Kaapse blommeryk, wat deur fynbos oorheers word. Dié blommeryk, wat minder as 90 000 km2 beslaan, is die tuiste van ’n verstommende 9 600 plantspesies, waarvan meer as 6 500 endemies is.

Dit is nie net een van die mees diverse botaniese gebiede op aarde nie, maar ook die tuiste van die wêreld se skaarsste plante, soos die Mimetes stokoei.

Fynbos is natuurlik van ’n groter ekostelsel afhanklik, wat voëls insluit wat blomme help bestuif, en miere wat sade ondergronds dra. Baie van hierdie saad se ontkieming word deur brande aan die gang gesit.

Die tydsverloop van brande speel ’n belangrike rol aangesien te veel brande skade aan die saadbank kan veroorsaak. Dit wil voorkom of baie warm somervure met intervalle van 10-25 jaar die beste is om fynbos doeltreffend te laat herleef.

Brande se rol

Beheerde brande in Julie 1971 en April 1984 wat daarop gemik was om die Mimetes stokoei te laat herleef, het misluk. In Desember 1999 het die natuur egter sy loop geneem en die “perfekte brand” het deur die Kogelberg-reservaat versprei.

Dit het fynbos verbrand wat ongeveer drie dekades onversteurd gelê het en die dormante Mimetes stokoei-saad laat herleef.

In Januarie 2001 het Mark Johns, destydse bestuurder van die Kogelberg-reservaat, en sy gesin tot hul groot vreugde 24 jong Mimetes stokoei-plante gevind, en teen Maart 2004 was hierdie plante in blom.

Teen 2007 is nog twee klein groepe elders in die reservaat ontdek. Weens die Mimetes stokoei se kort lewensduur van sowat 8-12 jaar het net vyf van hierdie plante tot in 2010 oorleef.

Sedertdien het nóg brande tot die verskyning van klein groepies Mimetes stokoei-plante gelei.

Besoekers aan die Kogelberg-reservaat word egter ontmoedig om na hierdie plante te gaan kyk uit vrees dat hulle bakterieë kan oordra, die grond om die plante onnodig kan versteur of die plante se wortelstelsel beskadig.

Danksy kennis wat opgedoen is tydens vroeëre pogings om die Mimetes stokoei op robuuste onderstokke te ent, kan die publiek soms blomdraende plante in die Harold Porter- botaniese tuin op Bettysbaai en in Kirstenbosch sien.

Volgens Johns is die kunsmatige voortplanting van fynbos ’n korttermynoplossing aangesien daar geen plaasvervanger is vir plante wat in hul oorspronklike plek en toestand groei nie.

In ’n poging om bewaringspogings in Suid-Afrika te steun, word saad van die Mimetes stokoei ook in die Millennium-saadbank in Brittanje gebêre.

Ontdekker van vele spesies

Stokoe het tot op sy oudag in die Kaapse berge gestap en het sy 91ste verjaardag in 1959 met ’n klimtog in die Hottentots-Hollandberg gevier.

Tydens dié uitstappie het hy vermoedelik longontsteking opgedoen en hy is twee maande later oorlede. Sy as is in die Kogelberg-reservaat gestrooi.

Stokoe sal onthou word as ’n aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse biologiese vereniging, die natuurhistoriese klub van die Kaap en die Bergklub van Suid-Afrika.

Hy was ook ’n botaniese kunstenaar en het artikels vir die Journal of the Botanical Society of South Africa geskryf.

Sy groot prestasie was ongetwyfeld die meer as 16 000 plantspesies wat hy versamel het, waarvan minstens 150 as nuwe spesies geïdentifiseer is, soos die Mimetes hottentoticus wat net ’n paar dae voor die Mimetes stokoei gevind is.

Benewens die Mimetes stokoei is minstens 30 plante, en ’n kewer, na hom genoem. Dit sluit in die manjifieke Protea stokoei en die Berzelia (voorheen Brunia) stokoei.

Dit is gepas dat iemand wat só baie bygedra het om die geheimenisse van die Kaap se blommeryk te ontrafel, se naam vandag met baie van dié ryk se plante verbind word.

Bronne: www.s2a3.org.za/bio/Biograph final.php?serial=2737; www.greenpop.org/5-things-you-didnt-know-about-fynbos; D. Raimondo, K. Grieve, N. Helme, R. Koopman en I. Ebrahim (redakteurs) (2013) Plants in Peril; SANBI, Pretoria; Johns, A. en Slingsby, P. (2009) T.P. Stokoe: man, myths, flowers; Baardskeerder Cape Town; www.showme.co.za/lifestyle/precious-piece-of-the-cape en www. biodiversityexplorer.info/plants/proteaceae/mimetes_stokoei.htm