Wat maak Granny Dot’s so spesiaal?

Granny Dot’s Country Spot is ’n gastehuis op ’n avokadoplaas, 16 km buite Tzaneen. Ons bied tien kamers, waarvan vier selfsorgeenhede is. Gaste kan in ’n rustige atmosfeer in ruim kamers oornag en die vrede van die plaas en die natuurskoon ervaar. Die gastehuis het ’n besonderse uitsig oor die Wolkberge, heuwels met plantasies, avokadoboorde en natuurlike bos.

Ons het van die begin af gesê dat ons saam met die Here by die gastehuis intrek. Sy teenwoordigheid moet tasbaar wees, of ons gaste nou gelowig is of nie. Dit moet blyk uit die atmosfeer en die soort diens wat ons lewer, sonder om andersdenkendes te irriteer of ongemaklik te maak. Geen mens is bestand teen liefde en vriendelikheid nie.

Ons wil ’n tuiste skep weg van die huis af, wat motiveer, mense laat goed voel en vrede gee.

Hoe het twee oud-onderwysers gastehuiseienaars geword?

Die gastehuis bestaan al jare lank. André, Helena se man, het ’n paar jaar gelede al die plaas gekoop waarop die gastehuis staan. Die Bissets, aan wie die plaas vroeër behoort het, het die gastehuis gehou, maar in 2017 besluit om af te tree.

Ons albei was in die onderwys en het onder groot druk gewerk. André het vir ons die geleentheid aangebied en gedreig om alles plat te slaan en nog avokadobome te plant indien ons dit van die hand sou wys. Dit het die deurslag gegee.

Is dit maklik vir susters om saam te werk?

Ons is sussies én beste vriendinne. Ons voel en dink dieselfde oor dinge en het albei besonderse werksetiek en ’n optimistiese uitkyk op die lewe. Ons kan albei ewe hard werk en innoverend en kreatief wees.

Hoe dra die onderneming tot die boerdery by?

Hoewel die avokado’s van ons plaas af uitgevoer word, kan ons ook nie voorbly met verkope aan gaste nie. Ons beoog ook avo-toere op die plaas waartydens gaste ingelig kan word oor hoe avokado’s verbou word.

Hoe het julle gemotiveerd gebly toe julle die onderneming net begin het?

Ons was van die begin af vreeslik geesdriftig. Elke bespreking was, en is steeds, vir ons ’n oorwinning. Ons het van die begin af geglo dat die besigheid vanuit die Here se hand kom en daar was nooit by ons enige twyfel dat dit ’n sukses sal wees nie. Ons is albei harde werkers en optimiste. Sukses kweek sukses. Ons mikpunt is om elke gas opgewonde te maak oor dit wat ons bied.

Hoeveel mense werk vir julle?

Ons het twee werkers van die gastehuis oorgeneem, ’n vrou in die huis en ’n man in die tuin. Ons het toe een van die tydelike werkers op die plaas wie se werksywer ons beïndruk het, ook ingeneem en haar geleer om in die kamers te werk.

Mettertyd het ons nog ’n hardwerkende tydelike plaaswerker in die washuis aangestel, en 18 maande nadat ons die nuwe Granny Dot’s se deure oopgegooi het, het ons ’n sjef aangestel. Ons het intussen ook sy vrou in diens geneem.

Watter vaardighede het die werkers by julle geleer?

Net perfeksie is goed genoeg. Ons probeer ook ’n werktrots skep, wat vanself sorg vir die ywer wat ons graag wil hê. Ons wil hê hulle moet vreugde vind in hul arbeid.

Hoe bemark julle die gastehuis?

Ons is aan baie van die besprekingskanale op die internet gekoppel. As iemand navraag doen oor gastehuise in die omgewing, behoort ons naam onder dié te wees wat na vore kom. Facebook is vir ons van groot waarde omdat ons reeds heelwat aanhangers van oor die hele land het. Deur gereelde plasings maak ons seker dat mense van ons bewus bly.

Ons grootste bemarkingsplan is egter uitstekende diens sodat gaste gereeld terugkeer en vir ander mense van ons vertel. Ons het ook minstens twee agentskappe wat vir ons bemarking in die buiteland doen, veral in Nederland en België.

Hoe help jul onderneming die gemeenskap waar jy geleë is?

Ten opsigte van werkskepping en opheffing bied ons ’n geleentheid aan ons werkers om te leer en ’n bestaan te maak. Alles wat hulle by ons leer, kan ook in hul huise ’n verskil maak indien hulle dit wat ons doen, by hul huise gaan toepas.

Het julle enige wenke oor hoe om tyd te bespaar?

Beplanning en voorbereiding is die kern van beheer. Dié dure les het ons in die onderwys geleer. Bly ingelig, al is jy nie by die werk nie. Doelgerigte, onmiddellike kommunikasie is van die uiterste belang. Moenie uitstel nie. Pak dadelik elke bul wat hom voordoen by die horings.

Wens julle daar was iets wat julle geweet het voor julle met die gastehuis begin het?

Ja. Dat ons nog altyd oor die vermoë beskik het om ’n besigheid te bestuur! Ons kon lankal so gelukkig gewees het soos nou. Omdat ons albei aan die verkeerde kant van 45 staan, sukkel ons om die tegnologie baas te raak. In die gasvryheidsbedryf word alles nou op die internet en ekstranet gedoen. Meer vaardighede op daardie terrein sou dinge vir ons baie makliker gemaak het.

Wat was die beste raad wat jy ooit gekry het? En die swakste?

Beste raad: Volg jou instink. Swakste raad: Maak soos ander gastehuise.

Het julle uitbreidingsplanne?

Ons gastehuis leen hom tot ’n pragtige trouvenue. Met bouwerk en goeie beplanning kan dit ’n werklikheid word. Konferensiegeriewe lê ook moontlik in ons toekoms en dan meer kamers soos die behoefte hom voordoen. Ons kry baie versoeke vir funksies, maar ons wil net in die eerste instansie ’n puik gastehuis wees.