Die Kaapse Jagklub leef die jaghondtradisie van ouds al langer as 195 jaar uit. Altesame 65 perde en ruiters het op die onlangse ope dag die klub se spoorhondtrop agternagesit teen ’n stewige galop oor sowat 12 km.

Die klub besit Engelse Jakkalshonde (Foxhounds) waarvan lord Charles Somerset in die 1820’s die afstammelinge van die Beaufort-jagklub in Engeland na Suid-Afrika gebring het, sê die afgetrede veearts dr. Vere Allin, die een jagmeester.

“Die trop word raseg gehou deur dan en wan honde in te voer. Ons het onlangs honde van die Cotswold-, Noord-Cotswold en Heythrop-jagklub ingevoer. Ons probeer elke jaar ’n werpsel teel om die tropgrootte dieselfde te behou – sowat 30 honde, 40 op die meeste.”

Die M-werpsel se Meddler, Moonlight en Muffler. Elke nuwe werpsel kry al met die alfabet langs ’n letter, waarvolgens hondjies dan name kry.

’n Letter word aan elke werpsel toegeken – die hondjies wat vanjaar gebore is, is die M-werpsel – waarvolgens hulle dan name kry, soos Moscow, Maxwell en Magic.

“Die name moet uit die amptelike lys gekies word,” verduidelik Johann Loubser, die ander jagmeester.

“Ek kyk wat beste pas. Die klein enetjie is Missy. Marksman het ’n pyltjie op sy kop. Dié enetjie is Moonlight – sy was heeltemal wit toe sy klein was. Dié twee was soos vinkel en koljander, toe besluit ek op Muffler en Meddler, die twee naaste name wat ek kon kry. En dié is Magnum. Hy het ’n baard, nes Magnum P.I. destyds ’n snor gehad het.”

Dié hondjies se opleiding gaan eersdaags begin. “Eers loop hulle aan ’n leiband. As hulle groter is, maak ons hulle aan ’n groot hond vas. Só raak hulle daaraan gewoond om saam met die trop te beweeg. Mettertyd, namate ek kan sien hulle is reg, maak ek hulle los.”

Johann Loubser, die een jagmeester. Foto: Kirsty Huth

Honde ‘maak musiek’

In spitstyd jag die klub elke naweek. Voor die wegspring nuttig ruiters ’n tradisionele Stirrup Cup – ’n glasie sjerrie, whisky of port. Daar word nie op ’n regte jakkals jag gemaak nie. ’n Ruiter gaan vooruit en lê ’n spoor. Hy of sy sleep ’n sak wat met ’n sterk konkosie natgemaak is.

Dit is gemaak van jakkalsmis wat ’n paar weke lank in ’n emmer water staan. Die honde jag al geslagte lank só. Toe ’n duiker onlangs by die halfpadmerk uit ’n bos spring en tussen die honde deur hardloop, het hulle niks daaraan gedoen nie. Dis die konkosie se reuk waarop hulle toegespits is, sê Johann.

Knap-sack neem die voortou. Die honde maak nie op ’n regte jakkals jag nie, maar volg ’n reukspoor wat ’n ruiter lê. Foto: Ella-Louise Minchinton-Smith

“As hulle die spoor kry, kan jy dit dadelik hoor – hulle maak ‘houw-ouw-ouw-ouw!’ Ons sê die honde maak musiek.

“Die beste honde tel die spoor eerste op. Jy leer hulle mettertyd ken. Dis nie altyd die honde heel voor in die trop nie. Die jong honde is baie geesdriftig. Hulle is die vinnigste, maar nie altyd reg nie.

“Jy sien dit byvoorbeeld by ’n kruispad. Die honde begin maal. Hulle hardloop diékant toe en daaikant toe. Ek sal Halifax vertrou. Jy kan maar weet hy vat die regte pad.” Die klub het al met tot 30 honde op ’n slag gejag. Johann ry voor om hulle te beheer, met ’n paar ruiters (tradisioneel bekend as die whippers-in oftewel pikeurs) wat hom bystaan.

Jakkalsmis wat ’n paar weke in ’n emmer water staan, sorg vir ’n sterk spoorlê-konkoksie.

“Ek sê altyd vir mense: Ken jy ’n beagle? As jy hom losmaak, is hy weg! Die neus gaan af, die stert gaan op, en die ore gaan toe. Dis net so met die jong honde.” Mettertyd leer die honde om bevele te gehoorsaam.

Pack in beteken hulle moet bymekaarkom,” sê Johann. “Met come along roep jy hulle aan. Have a care beteken hulle moet stadig beweeg. En dan is daar ook find.” Om tred te hou met die trop, moet Johann en die pikeurs vinnig kopsomme doen.

“Ons tel die honde in pare. Ons praat byvoorbeeld van jag met ten couples, of eight and a half couples.” Die ruiters mag nie die honde verbysteek nie. Agter die pikeurs ry die ritmeester, wat na die ruiters omsien.

Waterpret. Die honde geniet die lafenis ná ’n oefensessie.

Die jagroete is gewoonlik 12 km tot 14 km lank, verdeel in ses bene sodat ruiter, perd en hond ná elke skof ’n blaaskans kry. Daar is hindernisse waaroor die perde spring en soms riviere om deur te ry. Ruiters is netjies uitgevat in formele skoudrag, soos donker of tweedbaadjies, roomkleurige of wit rybroeke en lang swart ry- stewels.

Nuwelinge is altyd welkom en hoef nie té streng by hierdie dragreëls te hou nie. Die gogga het Johann in die 1980’s gebyt. “Iemand het gesê ons moet ’n slag gaan hunt. Ek sê toe nooit, ek gaan nie eens kerk toe met ’n hoedjie en baadjie nie. Maar toe leen ek klere en sien – dis lekker sports dié! Dit was die einde van die saak – ek is nou al 34 jaar hierby betrokke.”