Pleks van haarself aan bome vasketting om stootskrapers te stuit of plakkate rond te swaai voor industriële konglomerate se kantoorgeboue, konsentreer dr. Anri Manderson van Like Mountains, ’n onderneming wat vlugtige olies uit inheemse gewasse onttrek, op praktiese oplossings.

Anri het aanvanklik tuinbou-opleiding gedoen om mense te help met huishoudelike voedselsekerheid. Nou is sy besig met ’n grootskaalse projek om organiese vlugtige olies te onttrek aan plante wat op marginale grond verbou word. Dit het al werk verskaf aan 24 mense en bied plattelandse vroue ook die kans om self te boer.

Sy verbou roosmalvas (rose geranium), teeboom en ander inheemse gewasse waaraan vlugtige olies onttrek kan word op ’n stuk grond by Hoedspruit van die Moletele-gemeenskap, een van die grootste grondeienaars in Limpopo. Sy lei ook vroueboere uit die gemeenskap op om organies met hierdie plante te boer sodat hulle uiteindelik hul plantmateriaal aan haar kan lewer vir distillering.

Nadat 50 000 plantjies aanvanklik aangeplant is, is Anri-hulle steeds besig om nuwe steggies te kweek en te plant. Sy hoop om uiteindelik 13 ha onder roosmalvas te hê.

Die platteland roep

Anri het op Hoedspruit grootgeword. Haar pa, Tommie Landman van die Landman-groep, het jare gelede met sy gesin van hul familieplaas by Letsitele na Hoedspruit verhuis vanwaar hy nou die familieboerdery saam met haar broers, Duo en Dirk, bedryf. Duo is op Hoedspruit en Dirk sien om na die boerdery se vertakking by Piketberg in die Wes-Kaap.

Ná skool het Anri haar op die gebied van voedselsekerheid toegespits. Sy het ’n meestersgraad in volhoubare ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch se instituut vir volhoubaarheid verwerf voordat sy by ’n nieregeringsorganisasie in Johannesburg gaan werk het. Sy het haar PhD-graad, waartydens sy gekyk het na streekbeleid oor voedselsekerheid, in België verwerf.

Dit was ’n maklike besluit toe die familie haar man, Matthew, so vier jaar gelede genader het om van Johannesburg na Hoedspruit te verhuis om met die boerdery se bemarking te help. Anri was in elk geval gereeld in die Hoedspruit-omgewing waar sy projekte vir Southern Africa Food Lab bestuur het.

Terug in haar tuisdorp het sy saam met haar ma en stiefpa, Carien en Thias Taute, die Hoedspruit Hub begin. Dit is ’n opleidingsentrum vir plaaswerkers wat gesamentlik deur die Landman-groep, Blydevallei-boerdery en Bavaria-landgoed se eienaars, ANB Investments, gefinansier word. Daar was ook ondersteuning van die Duitse genootskap vir internasionale samewerking (GIZ) en die Vlaamse regering, gekanaliseer deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK).

As landboukundige het sy haar kennis aan studente en ook mense in die omliggende gemeenskappe oorgedra.

“Ek het aanvanklik gedink die oplossing lê in organiese groenteproduksie en het mense in landelike gebiede geleer om volhoubaar organiese groente en vrugte te produseer. Ons maak eintlik elke keer ’n groot fout as ons dit doen,” sê Anri, en verduidelik dat ’n mens moet begin deur eerder te kyk na waarvoor daar ’n mark is.

“Ons organiese entoesiaste ignoreer die feit dat daar nie altyd ’n mark is nie en konsentreer op al die ander wonderlike aspekte van organiese boerdery, soos grondrehabilitasie, en klimaataanpasbaarheid.”

Anri het ’n klein boksskema op die been gebring waar kleinboere hul oorskot aan mense van Hoedspruit kon verkoop, maar toe die inperking verlede jaar ingestel is, het hul klante soos mis voor die son verdwyn. Hoedspruit, anders as plekke soos Johannesburg en Kaapstad, het net nie genoeg toegewyde verbruikers vir ’n organiese varsproduktemark nie.

Makadamiadoppe word gebruik om die distilleerketel te stook, en die afval is biokoolstof wat in die grond ingewerk word.

’n Beter oplossing

Reeds voor die Covid-19-pandemie het Anri begin dink aan ander maniere om landelike mense ’n inkomste uit organiese boerdery te help verdien, maar hierdie keer het sy by die mark begin en haar pad teruggewerk grond toe.

’n Vriendin, wat juis besig was met navorsing vir ’n ander nieregeringsorganisasie, het aan haar genoem dat daar meer potensiaal in verwerkte natuurlike produkte is.

“Ek gaan praat toe met Grant McMurray, die eienaar van Soil, Suid-Afrika se eerste vlugtige-olie-handelsmerk wat organies gesertifiseer is, om te hoor of hy die onverwerkte produk by ons sal koop om te distilleer.”

McMurray het haar gewaarsku dat die vervoerkoste van die plantmateriaal ál haar wins sou opvreet. Jy het immers sowat 600 kg roosmalvablare nodig om ’n liter olie te onttrek. Anri het ’n mobiele distilleringseenheid oorweeg, maar gou besef ’n aanleg moet ’n permanente plek hê en heeltyds bedryf word.

Haar pa het haar aangeraai om navorsing te doen oor gewasse wat spesifiek in die Laeveld van Limpopo aard, en veral oor hul opbrengs, olie-opbrengs en prys van die olie.

Anri het nooit konvensionele boerdery oorweeg nie, maar het uit die staanspoor probeer vasstel watter premie hulle vir organies geproduseerde olies kan verdien. Die syfers was só belowend dat dit haar pa oortuig het dat die familieboerdery vir haar geld kon leen om die projek van stapel te stuur. Sy raad was egter om van meet af aan groot te boer, pleks van klein begin.

Die Landmans het lande waarop voorheen groente geplant is, met ’n skottelploeg bewerk. Anri het ’n mengsel van kompos en biokoolstof tussen die riwwe ingewerk voor hulle in Augustus 2019 van 43 000 tot 50 000 plantjies per ha aangeplant het. “Ons het geplant dat ons bars!”

Van die Landman-groep se tydelike arbeiders – spanne vroue – was daardie tyd beskikbaar om hand by te sit. Van hulle het daarna permanent by Anri aangebly.

Intussen het die NOK haar aansoek om ’n distilleringseenheid te finansier, goedgekeur – veral omdat Like Mountains beoog om vroue uit die gemeenskap op te lei as kontrakboere om plantmateriaal aan haar te voorsien.

Voordat dit gedistilleer word, word die roosmalvablare stewig in die vlekvryestaalpotte vasgetrap.

Besigheidstruktuur

Die stuk grond wat haar pa aan haar beskikbaar gestel het, is deel van ’n groter gedeelte wat die Landman-groep saam met die Blydevallei-boerdery by die Moletele-gemeenskap huur. Like Mountains is Anri se eie onderneming. Saam met die Wilde Women’s Trust besit sy ’n bemarkingsmaatskappy, Wilde Natural Oils. Slegs organies gesertifiseerde, inheemse vlugtige olies sal vanaf Mei onder dié handelsmerk verkoop word.

Buitekwekers is begunstigdes van die trust. ’n Buitekweker is iemand wat indiensopleiding by Anri ontvang en ’n plantproduksiekursus by die Hoedspruit Hub voltooi het, en wat dan haar eie roosmalvas of ander plante waaraan inheemse vlugtige olies onttrek kan word, aanplant en organies verbou om aan Anri te lewer.

Die NOK het voorgestel die vroue oes elke vier maande en word dan betaal, maar Anri reken dit kan moeilik wees vir kleinboere om vier maande sonder ’n inkomste te oorleef. Sy betaal dus eerder ’n maandelikse voorskot en die verskil wanneer die plantmateriaal gelewer word.

Volgens haar berekeninge kan ’n vrou wat vier maal per jaar 2 ha se roosmalvas oes omtrent R5 500 per maand verdien. Dit is egter ’n heeltydse werk vir een vrou en daarom eksperimenteer Anri ook met ander minder arbeidsintensiewe inheemse gewasse. “In ’n perfekte wêreld sal só ’n kleinboer 2 ha onder roosmalvas hê en 1 ha onder teeboom.”

Dit gaan egter nog lank duur voordat die buitekwekers gevestig is en genoeg produseer. Vier vroue uit die Moletele-gemeenskap ontvang tans opleiding. Die hele projek se inkomste hang dus nog van Anri se eie 9,5 ha roosmalvas af, maar selfs vroue uit ander gemeenskappe kan in die toekoms buitekwekers word.

Gilbert Sithole wys hoe lyk die eind- produk van sowat 600 kg roosmalvablare – orga­niese roosmalva- vlugtige olie.

Uit die blokke

Anri se eerste oes was al verlede Januarie gereed, maar haar finansiering het eers in Februarie in haar rekening geland. Die distilleringsaanleg is uiteindelik moontlik gemaak deur finansiering wat die Belgiese ontwikkelingsorganisasie Flanders State of the Art deur die NOK beskikbaar gestel het.

“Ons moes die potte vir die distilleerder laat insit en terselfdertyd oes. Ons het letterlik die Vrydag die vloer vir ons aanleg gegooi, die Maandag die ketel geïnstalleer en die Dinsdag die potte.”

Hulle wou die volgende Maandag begin distilleer, maar ’n ongeluk met kookwater wat uit die ketel in een van die potte teruggestoot het, het Anri se arms en bolyf erg verbrand en alles tot stilstand gebring.

Die plantmateriaal is toe in die koelkamer gebêre en terwyl Anri van haar brandwonde herstel het, het die ketelmakers die fout gesoek. “Tot vandag toe weet ons nie hoe of hoekom dit gebeur het nie. Dit was ’n fratsongeluk, ” sê sy.

Drie weke later het Like Mountains sy eerste organiese roosmalva- vlugtige olie gedistilleer en vandag is die eerste drie oeste se olie al uitverkoop. Die ondernemings Soil en Scatters Oils koop van hul olie en hulle lewer ook heelwat aan maatskappye wat velsorgprodukte en parfuum vervaardig. Tot dusver het baie van dié maatskappye olie uit Egipte ingevoer, maar danksy haar organiese sertifisering verkies hulle om plaaslik by haar te koop.

Anri en haar span is druk besig om die roosmalva-aanplantings na 13 ha uit te brei en ook met gewasse soos wildeals en ander inheemse plante te eksperimenteer. Sy glo sy beweeg ál nader aan die regte model om vrouekleinboere te help om welvaart deur organiese boerdery te skep. Dit sal ’n wensituasie wees, vir die boere én die natuur.

NAVRAE: Dr. Anri Manderson, e-pos: anri@hoedspruithub.com