Vir Alet van Zyl van Hartsgoed (met winkels in Swellendam en Upington) was dit nog altyd ’n hartsbegeerte om vrouwees in ’n harde wêreld te vier. Sy moes dus kies: Sy kon haarself opwerk tot ’n suksesvolle wynmaker nadat sy haar diploma in keldertegnologie voltooi het óf sy kon haar eie onderneming, Hartsgoed, wat op mooi en lekkervoel-goed vir vroue sou verskaf, ’n kans gee.

“Ek het ’n waardering vir mooi goed en my hart het aanhou hunker na iets sags, vrouliks en moois. Ek kon nie my rug draai op dít wat my hart warm laat klop nie. Geluk kom kry ’n lêplek in jou gemoed as jy elke dag besig is met dinge wat jou hart laat blom.’’

Aangesien voorskote ’n gewilde artikel in die Boland se geskenkwinkels is – en ’n nuttige geskenk vir ’n kombuistee of vir Moedersdag – het Alet besluit om haar daarop toe te spits. Boonop kon sy sélf nie ’n enkele voorskoot vind wat haar hart steel nie en wou sy – met haar eie lapgoed – voorskote met ’n eiesoortige, uitsonderlike styl skep. “Hoe meer voorskote ek gemaak het, hoe mooier het hulle vir my geword. Soms het ons vroue mos maar net ’n gevoel oor ’n ding. . . daardie sesde sintuig van ons. Boonop het ek aanvanklik ook nie ’n omkapmasjien – wat ek toe nog nie besit het nie – nodig gehad om die voorskote te maak nie,’’ vertel dié innemende jong vrou vir wie dit heerlik is om met mense te werk.

Reeks produkte brei uit
Intussen het haar reeks produkte uitgebrei om onder meer beddegoed vir kinderkamers en kussings – met versies uit haar pen – in te sluit. Sy het sedert begin vanjaar twee heeltydse naaldwerksters, asook twee heeltydse winkelbestuurders wat in haar winkels op Swellendam en Upington werk. “Soms is daar soveel bestellings dat ek nie by voorraad vir die winkels uitkom nie. Ek sal jok as ek sê dat dit nie moeilik is nie. Daar is tye wat dit 12 uur-werksdae ses dae ’n week kos om alles gedoen te kry. Dan moet ek boonop saans e-posse beantwoord. Ek het egter intussen geleer om op elke mens in my Hartsgoed-span staat te maak. Beplanning is egter van kardinale belang en voorraad moet noukeurig gereguleer word.’’

Vanjaar wil sy haar toespits op die vestiging van ’n aanlyn-winkel om haar instap-winkels te ondersteun en aan te vul, en haar groothandel-verkope na meer winkels en dorpe – selfs na meer lande – uit te brei. “Hoewel geen aanlyn-winkel ooit die gevoel en atmosfeer van ’n instap-winkel sal kan vervang nie, het almal nie die weelde van ’n instap-winkel naby hulle, of tyd om rustig deur ’n winkel te stap nie. Dit is juis in sulke omstandighede wat ’n aanlyn-winkel wondere kan verrig. Vroue is egter só aanmekaargesit dat ons moet sien en voel en hoor. Die gehalte van produkfoto’s met die opsie om detail te vergroot, sal dus van kardinale belang wees.’’

Vol drome vir die toekoms
Haar hart en kop is egter vol drome vir die toekoms, waarvan een ’n eie reeks kinderklere is. “Só ’n nuwe reeks sal ook tot werkskepping lei. Produkontwikkeling is ook hoog op my voorranglys – ’n mens moet ligloop om nie te stagneer nie. ’n Produk wat vandag werk, gaan nie noodwendig oor tien jaar steeds sukses behaal nie.’’

Intussen sit die voorreg om elke dag met mooi lap te kan werk, ’n huppel in haar stap. “Dis heerlik om ’n foto of e-pos van ’n tevrede kliënt te ontvang wat wys hoe lekker haar dogtertjie onder haar nuwe Hartsgoed-beddegoed slaap. “Die mooiste terugvoer van ’n kliënt bly egter steeds dié een van ’n vrou wat vertel dat sy elke week wanneer sy dorp (Swellendam) toe kom, by Hartsgoed kom ‘asem skep’ en die winkel telkens met ’n ligte hart en ’n glimlag verlaat – opgeruimd en vrolik, met of sonder ’n pakkie in haar hand, maar altyd vol inspirasie.’’

Navrae: Alet van Zyl, sel 072 416 6227. Webwerf: www.hartsgoed.co.za. Facebook: Hartsgoed Dekor & Geskenke.

•Die wenner word op 23 Mei in Kaapstad aangewys.