Die hoof van spyseniering by die luukse Zebula-gholflandgoed en -spa, mnr. Avin Hira-lall, het pas ingestem om vars produkte wat ’n groep vroue in hul nuwe kommersiële groentetuin kweek, vir sy kombuise aan te koop. Honderde internasionale en plaaslike besoekers kom sit elke dag by die oord se drie restaurante aan vir ware fynproewersmaaltye.

Voor die vergadering het hy saam met mnr. Neill Jackson van Foundations for Farming en van die vroue gaan kyk waar hulle besig is om hul nuwe kommersiële tuin aan te lê. Hulle het ook by die huise van drie van die vroue wat daar naby woon, na hul persoonlike groentetuine gaan kyk.

Die groenteboerdery is deel van die visie van die Hope Africa-projek van mnr. Randy Collier en sy vrou, Carolyn, van Amerika. Hulle het Suid-Afrika in 2009 besoek en besluit om Project Hope Africa op die been te bring. Die projek is daarop toegespits om mense by te staan en op te lei om hulself te help, pleks van ’n kultuur van afhanklikheid van welsyn te skep en te onderhou.

Hulle pas beginsels toe wat hulle geleer het in hul loopbane by ’n kleinhandelgroep waarvan die werkers die besigheid besit en bestuur. Albei is nou afgetree. Vingerkraal is ’n gemeenskap wat tydens die 2011-sensus uit 827 mense in 147 huishoudings bestaan het.

Dit is kommunale grond omtrent 40 km wes van Bela-Bela waar dit aan die een kant aan Phala-Phala, pres. Cyril Ramaphosa se plaas, grens. Dit is omring deur luukse toerismebestemmings soos die Zebula-landgoed, die Mabula Private Natuurreservaat, Mabilingwe-natuurreservaat en -gholflandgoed, en die Zwartkloof-leefstyllandgoed.

Volhoubare boerdery

Die groentetuin het begin as ’n projek om plaaslike huishoudings te leer om hulself volhoubaar van vars voedsel te voorsien. Neill en sy vrou, Johanna, se hulp is daarvoor ingeroep. Hy het die eerste 14 vrouevrywilligers in April verlede jaar begin mentor in Foundations for Farming se landboubeginsels.

Die eerste is minimum grondversteuring en daarna volg goeie grondbedekking. Voordat die vroue plant, bedek hulle die grond met ’n laag organiese materiaal, gewoonlik gras wat hulle in die omgewing gesny het. “Ons noem dit God se kombers,” sê Neill.

“Dit beskerm die bogrond, keer verdamping en skep ’n gunstige klimaat vir vriendelike insekte en mikro-organismes.” Die volgende beginsel is roterende wisselbou. Gewasse word in ’n sekere volgorde langs mekaar geplant om grondgesondheid te behou en om die oordrag van siektes tussen verskillende gewasse tot die minimum te beperk.

Dieselfde gewas word nooit twee keer in dieselfde ry geplant nie. Die vroue is geleer om ’n hoë bestuurstandaard te handhaaf en om elke ding op sy tyd en in sy seisoen te doen. Hulle doen dit alles sonder vermorsing.

Drie jaar lange droom

Die bewys van hul sukses is in hul groentetuine, en dit is dié huistuine wat Avin oortuig het hy kan hul produkte met vrymoedigheid in sy deftige restaurante se kombuise voorberei.

“Ek sal graag die Vingerkraal-gemeenskap ondersteun. Jul groente is van ’n baie goeie gehalte en die feit dat dit organies geproduseer word, is ’n bonus,” het hy kort ná die voorlegging gesê. Hy het Randy, Neill en die vroueboere se verwagtinge oortref toe hy dadelik vra hoe gou hulle vars produkte kan lewer.

Die Vingerkraal-nedersetting naby Bela-Bela herinner aan ’n ouwêreldse Afrika waar geen plastieksakke, bottels of blikke rondlê nie. “Oor drie jaar het ons gesien hoe hierdie gemeenskap die leiding wat ons gee in hul lewens toepas en hoe dit hul hele omgewing verander,” sê Randy.
Mnr. Randy Collier (links voor) wys vir Avin Hiralall foto’s van die vestiging van die eerste groentetuine op Vingerkraal. Avin het daar en dan ingestem om vars produkte van die vroue aan te koop.

Hy sê die produkte wat die meeste in sy kombuise gebruik word, is aartappels, tamaties, uie, wortels, radyse, klein tamaties en babawortels. Avin het die vroue aangemoedig om vars kruie aan te plant en gesê hulle kan hom laat weet watter ander gewasse hulle wanneer kan lewer sodat hy sy spyskaarte, waar moontlik, daarvolgens kan opstel.

Randy en Neill is ewe uit die veld geslaan. “Dit is ’n drie jaar lange droom wat in ’n oogwink oor ’n papierbordjie vol koekies en ’n glas aanmaakkoeldrank bewaarheid is,” sê Randy. Neill is reeds besig om planne te beraam om die vroue te help om van die produkte in tonnels te verbou, wat ’n paar jaar gelede deur die Nasionale Lotery vir die Vingerkraal-gemeenskap gefinansier is.

“Ek is ongelooflik trots op hierdie vroue. Van die begin af het hulle goed op ons opleiding gereageer en nou gaan hulle die vrugte van hul harde werk pluk.” Randy sê die ooreenkoms maak ook ander deure vir die gemeenskap oop.

“Hulle gaan in November finansiële opleiding kry as een van die aansoekvoorwaardes vir mikrofinansiering deur die Phakamani-stigting, ’n organisasie wat landelike vroue help om klein besighede op die been te bring. Hulle gaan dus heeltemal onafhanklik funksioneer sonder om van enigiemand se aalmoese afhanklik te wees.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.