Gewoonlik word die rooster “vir eers” net so gebêre, sonder om dit skoon te maak. Wanneer jy dan weer ’n vleisbraaivuur aansteek, is die vet hard en galsterig. Dit is ook nie altyd ’n vinnige oplossing om die rooster skoon te brand nie.

En wat van die sand, want die wind het nou die dag so verwoed gewaai? Die storie dat ’n rooster eintlik so ’n bietjie vetterig móét wees, want dan brand die vleis mos nie vas nie, hou helaas ook nie water nie.

Mnr. André Cilliers, deeltydse boer en sakeman van Krugersdorp, wat al voorheen sy boereplan vir ’n lekbak wat nie natreën nie gewys het (LBW, 6 Julie 2018), sê hy was só moeg vir die gesukkel met sy ou rooster. Boonop irriteer ’n vuil rooster hom “grensloos”. Toe ontwerp hy ’n braairooster van vlekvrye staal wat sukkelvry skoongemaak kan word.

Hier staan drie van die sewe boere in die All Black-span wat Suid-Afrika besoek: Ian Kirkpatrick, Sid Going en Alex Wyllie. Hulle besoek mnr. David Hart (heel regs) van Amberdene, Oos-Londen, se Guernseyboerdery.

Die rooster, wat hy AC Kassie noem, bestaan uit ’n raamwerk en dwarspenne wat inmekaar steek. Die rooster word met vier vleuelskroewe losgemaak, die stawe waarop die vleis gebraai word, word uitgehaal en dit kan dan in die wasbak skoongewas word.

Die rooster is kompak en kan maklik na die jagveld of piekniekplek vervoer word.

Die rooster op die foto is 700 mm x 500 mm en kos R1 800. Ander groottes kan bestel word – die prys sal dan volgens die grootte vasgestel word.

PRYS: Wissel na gelang van grootte.

NAVRAE: 082 452 4134; e-pos: awcilliers@mweb.co.za