Kirsten Fourie het in KwaZulu-Natal grootgeword en Calvinia toe getrek om ’n pos in die bewaringsveld op te neem. Sy het haar skaapboerman, Louis, ontmoet en is in die Hantam om te bly, as die droogte hulle nie uitdryf nie. Sy het twee dogters en ’n seun wat sy tuis onderrig.

Hoe het die idee vir die bewertjies ontstaan?

Ek het ’n vriendin wat glo ek kan enigiets doen. Toe sy vra ek moet ’n skaapbewertjie vir haar ooievaarstee maak, het ek gedink ek kan ’n paar skapies hekel. Soos gewoonlik het ek tot op die laaste oomblik gewag en besef dit gaan lank duur om al die skapies te hekel.

Ek het op viltskapies op die internet afgekom. Hulle het so goed gewerk dat dit min of meer die patroon is wat ek nou nog gebruik. ’n Aanhaling deur die skrywer Anaïs Nin som dit goed op: “Elke vriend verteenwoordig ’n wêreld in ons, ’n wêreld wat nie gebore word totdat hulle aankom nie. Dit is eers dan dat ’n nuwe wêreld moontlik word.”

Maak jy ander produkte ook?

Ja, van gehekelde matte tot hobbelperdjies en tente, maar die bewertjies verkoop die beste. Die skapies en ander diertjies word van suiwer wol gemaak.

Wat motiveer jou?

Ek geniet dit om met my hande te werk. In sekere opsigte was dit dus maklik. Ek hou ook van die gevoel van prestasie as ek ’n voltooide bewertjie teen die lig bekyk en dink: Ag, hoe oulik. Dis die lekker wat my aan die gang hou.

Aan wie verkoop jy die bewertjies?

Ek gebruik Facebook, ons plaaslike mark in die blommetyd en gelukkige klante wat ander daarvan vertel.

Wie help jou?

Hier is twee vroue, Elisabeth “Beth” Alexander en Ragel Tromp wat, soos nodig, vir my werk. Hulle kom van die buurplaas en ek het hulle geleer om die wol te vilt.

Dra jou onderneming tot die boerdery by?

Ek het probeer om ons skape se wol te gebruik, maar dit was goedkoper om wol van die wolmeul te koop.

Hoe finansier jy die onderneming?

Die onderneming is nog baie klein. Ek finansier dit self en gebruik die inkomste uit verkope om my koste te verhaal. Ek sal graag die onderneming wil uitbrei, maar ek het beperkte kapitaal vir werkersalarisse.

Hoe bly jy produktief?

Omdat ek my kinders tuis onderrig, gebruik ek my vrye tyd goed. Ek werk baie goed as ek naby aan ’n afleweringsdatum is en wasgoed en huisskoonmaak wag. Só kom die bewertjies betyds klaar.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

My standaarde vir die bewertjies is hoog en ek maak seker dat elke skapie en elke bewertjie perfek is voordat ek dit versend.

Wat sou jy anders wou doen?

Ek wens ek was ’n beter bemarker. Ek leer nog hoe om dit te doen.

Wat het jy uit jou grootste mislukking geleer?

Wees eerlik oor jou vaardighede en ruim tyd in sodat jy nie klante met onrealistiese verwagtinge teleurstel nie.

Wat was die beste raad wat jy ooit gekry het?

Ek glo in die aanhaling: “In een sukses lê duisend vergete mislukkings, maar een weiering om te probeer, kan die voortydige dood van duisend suksesse veroorsaak.” ’n Mens voel soms nie lus om iets te doen nie, maar doen dit dan in elk geval.

NAVRAE: E-pos: bonekraal@gmail.com, 083 554 1514 (WhatsApp), 027 341 2543.