500 g broodmeel

50 g melkpoeier

7,5 ml sout

10 g (1 sakkie) kitsgis

80 ml heuning

1 eier

100 g botter, gesmelt

30 ml heelkorrelmosterd

200 ml water, by kamertemperatuur

100 g droëvye, rofweg gekap en 10 minute lank in 30 ml brandewyn geweek

1 ui, geskil en oorlangs in dik skywe gesny

6 salieblare, gekap

30 ml botter 200 g gerasperde, beleë cheddar

1 pakkie 250 g repiespek – kap 50 g fyn en hou 200 g eenkant vir bo-op die broodjies

60 ml esdoringstroop, effens warm gemaak sodat dit maklik smeer

Meng al die droë bestandele saam in ’n middelslagmengbak. Maak ’n holte in die middel. Meng die nat bestanddele saam in ’n maatbeker en gooi dit in die holte by die droë bestanddele. Meng dit goed in tot dit ’n werkbare deeg vorm. Jy kan dit ook in ’n elektriese menger meng. Laat staan die deeg eenkant om te rys tot dubbel in grootte, sowat 2 uur.

Braai die ui in die botter in ’n middelslagpan tot sag en deurskynend. Voeg die geweekte vye en gekapte salieblare by en braai tot sag en goudkleurig. Skep uit die pan en laat eenkant afkoel. Braai die 50 g spek in dieselfde pan tot bros en goudkleurig. Hou eenkant om af te koel.

Druk die geryste deeg met die palm van jou hand af. Gooi die uimengsel en die brosgebraaide spek saam met die gerasperde kaas by die deeg en werk dit deur met jou hande met ’n knie-en-vou-aksie tot alles eweredig deurgemeng is.

Verdeel die deeg in 12 ewe groot dele en vorm bolletjies. Pak dit knus langs mekaar op ’n bakplaat. Bedek met ’n skoon kombuisdoek en laat rys weer tot dubbel in grootte.

Verhit intussen die oond tot 200 °C. Pak die orige spekrepies op ’n bakplaat en bak in die oond vir 5 minute tot net-net gaar. Haal uit en hou eenkant.

Bak die rolletjies vir 20 minute. Haal dit uit die oond en pak die halfgaar spek in kruise bo-op die broodjies. Smeer die rolletjies met die stroop en bak nóg 5-7 minute lank in die oond tot goudkleurig. Haal die bolletjies uit die oond en smeer met nog ’n lagie stroop om mooi te blink. Bedien warm.

Lewer 12 bolletjies

Vickie de Beer is die skrywer van die boek Wine & Food – The Art of the Perfect Pairing. Sy is ook kosredakteur van Rooi Rose, waarin dié resep eerste verskyn het.