Kors
190 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
Knippie sout
50 g botter of margarien
50 ml strooisuiker
1 ekstragroot eier, geklits
25 ml melk

Vulsel
8 Granny Smith- of Pink Lady-appels
750 ml volroommelk
200 ml suiker
50 ml koekmeel
100 ml mielieblom
2 ekstragroot eiers, geskei
15 ml botter of margarien
5 ml vanieljegeursel
Knippie sout
Kaneelsuiker 

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n groot oondvaste tertbord of ’n paar individuele tertbakkies. Kors: Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Verroom die botter (of margarien) en suiker goed saam in ’n ander mengbak. Voeg die eier en melk by en meng goed. Voeg die meelmengsel by en meng tot ’n dik, smeerbare beslag.

Smeer die beslag in ’n egalige laag teen die boom en kante van die tertbord (of bakkies). Vulsel: Skil en ontkern die appels en sny in skyfies. Sit die appelskyfies in ’n kastrol met ’n bietjie koue water en prut tot netnet sag, nie pap nie. Dreineer die appelskyfies goed en hou eenkant.

Verhit 650 ml van die melk en 125ml van die suiker saam tot kookpunt. Maak die meel, mielieblom, die res van die suiker en die eiergele met die oorblywende 100ml melk aan en meng baie goed, tot glad. Giet die kokende melk oor die meelmengsel terwyl dit vinnig geklits word. Giet die mengsel terug in die kastrol, en verhit, terwyl aanhoudend geroer word, tot kookpunt. Laat prut tot die pap dik en gaar is.

Verwyder van die hitte en roer die botter (of margarien), vanieljegeursel en sout by. Klits die eierwitte tot styf, maar nie droog nie. Vou dit saam met die appelskywe liggies met ’n metaallepel by die melkpap in. Skep die vulsel in die rou kors. Bak vir 17- 20 minute (klein tertjies) of 25-30 minute tot die vulsel ferm is.  Lewer 8 porsies.

Teken HIER vir ons kosnuusbrief in en ontvang elke twee weke 'n gratis nuusbrief met heerlike resepte en artikels.