Fetakaas-sodabroodjie

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n kleinerige broodpannetjie goed met olie. Plaas 500 g bruismeel in ’n mengbak en voeg 3 ml sout by. Maak ’n holte in die middel en voeg 340 ml sodawater, 45 ml olyfolie, een wiel fyngekrummelde fetakaas en drie gesnipperde grasuie by. Meng goed en skep in die voorbereide pan. Bak vir ongeveer 1 uur, tot deurgaar en goudbruin. Sit louwarm voor met botter. Lewer 8 porsies.

Maaskaasrolletjies

Meng 625 ml koekmeel, 1 pakkie (10 g) kitsgis, 7 ml sout en 2 ml koeksoda in ’n mengbak. Klits 60 ml warm water, 60 ml gesmelte botter en 1 houer (250 g) gladde maaskaas saam met een eier en voeg dit by die droë bestanddele. Meng tot ’n sagte, klam deeg. Knie vir 10 minute op ’n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties. Sit in ’n groot, skoon bak wat met olie gesmeer is en bedek losweg met ’n teedoek of plastiek. Laat rys op ’n warm plek tot dubbel die volume. Knie af en verdeel in 8-12 ewe groot bolletjies. Pak losweg langs mekaar in ’n gesmeerde pan en laat rys tot die pan vol is. Voorverhit intussen die oond tot 200°C. Bak vir 15-20 minute tot goudbruin en deurgaar. Sit louwarm voor. Lewer 8-12 broodrolletjies.

Volgraanbrood

Voorverhit die oond tot 190°C en smeer twee middelslag-broodpanne met olie. Sif 310 ml koekmeel, 5 ml sout, 10 ml bakpoeier en 5 ml koeksoda saam in ’n bak. Voeg 4 x 250 ml (4 k) volkoringmeel, 310 ml semels, ’n 500 ml-mengsel van neute en sade van jou keuse by en roer goed. Meng 500 ml jogurt en 250 ml louwarm water en voeg by die droë bestanddele. Meng tot ’n sagte deeg vorm. Verdeel tussen die twee panne en bak vir 45-55 minute tot gaar. Laat effens in die panne afkoel voor jy dit uitkeer. Lewer twee brode (8-10 snye elk).