• Ongeveer 3 kg beesstert
  • Gegeurde meel
  • Olyfolie en botter
  • 1 ui, grof gekap
  • 2 groot wortels, geskil en gekap
  • 2 stele seldery, gesnipper
  • 2 knoffelhuisies, geskil en gekap
  • 1–1,5 liter beesvleisaftreksel
  • Vars tiemie
  • Vars lourierblare
  • 1 groot blik donker bier soos Guinness of Milk Stout
  • Vars pietersielie en suurlemoenskil, om af te rond

Voorverhit die oond tot 160 °C. Verwyder oortollige vet van die beesstert en bestuif dit liggies met gegeurde meel. Verhit ’n bietjie olyfolie en botter saam in ’n oondvaste swaarboomkastrol en braai die vleis in lotte daarin bruin. Skep die beesstert uit en braai die ui, wortels, seldery en knoffel in dieselfde pan tot sag (voeg ’n bietjie ekstra olie by indien nodig).

Skep die vleis terug in die kastrol en voeg die aftreksel, ’n paar takkies tiemie en ’n paar lourierblare by. Verhit tot kookpunt, bedek en sit die kastrol in die oond vir ongeveer 2 uur. Haal die beesstert uit, roer een keer deur en voeg die bier by. Sit die kastrol terug in die oond – hierdie keer sonder ’n deksel – en bak vir ’n verdere 2-3 uur, of tot die vleis baie sag, donker en klewerig is.

Gee die pot nou en dan ’n roer terwyl die vleis bak, om te voorkom dat dit droog of te donker bak bo-op. Geur na smaak en sprinkel vars pietersielie en fyngerasperde suurlemoenskil oor. Sit voor op romerige polenta of kapok- aartappels met gestoomde jong groente.

Lewer 8 porsies