Dit was nog nooit nodig om ’n beter resep te soek nie, want hierdie een, hoewel eenvoudig, werk elke keer en smaak heerlik. Beesvleis Wellington is een van daardie geregte wat moeiliker lyk as wat dit eintlik is om te maak.

As jy jou familie en vriende wil beïndruk sonder om te stres in die kombuis, is dit die resep vir jou. Boonop kan jy 90% van die werk vooraf doen.

400 g sampioene, grof gekap

Sout en vars gemaalde swartpeper

Olyfolie

750 g heel beesfilet

30 ml aangemaakte Engelse mosterd

6-8 dun snye Parmaham (sien kombuiswenk)

500 g skilferkorsdeeg

Meel, om te bestuif

2 eiergele en 'n spatsel water, saamgeklits

Sit die sampioene in ’n voedselverwerker saam met ’n bietjie sout en peper en verwerk tot ’n growwe pasta vorm. Skep dit uit in ’n pan en verhit (sonder om enige olie of botter by te voeg) vir ongeveer 10 minute, tot die sampioene gaar en droog gebraai is. Laat heeltemal afkoel.

Verhit ’n klein bietjie olyfolie in ’n groot swaarboompan. Geur die filet goed met sout en peper. Seël die filet vinnig in die pan – rol dit rond sodat dit oraloor egalig verbruin. Skep dit dadelik uit en laat afkoel. Sodra die filet koud is, smeer dit oraloor met ’n lagie mosterd.

Skeur ’n groot stuk kleefplastiek van die rol af en laat lê dit op jou werksoppervlak. Pak die skywe Parmaham daarop, in ’n langwerpige vorm sodat die skywe ham effens oorvleuel. Skep die sampioenpatee op die ham en smeer dit versigtig met ’n mes sodat dit ’n egalige laag bo-op die ham vorm.

Sit die afgekoelde, mosterdgesmeerde filet reg in die middel neer. Gebruik die kleefplastiek om die ham-en-sampioen-pateelaag rondom die filet te rol. Draai die punte van die plastiek stewig vas sodat die vleisrol sy vorm goed behou. Verkoel vir minstens 30 minute tot 2 uur.

Rol die skilferkorsdeeg effens dunner uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Haal die kleefplastiek versigtig van die vleisrol af en sit dit in die middel van die stuk deeg neer. Smeer die binnekant van die deeg (langs en rondom die vleis) met ’n bietjie van die eiergeelmengsel. Vou die kante van die deeg om die vleis en druk die korter punte in. Sny oortollige deeg af. Draai die rol om (sodat die naat aan die onderkant is) en sit dit op ’n uitgevoerde bakplaat neer. Verkoel vir 20 minute.

Voorverhit die oond tot 200°C. Maak ligte insnydings oraloor die deeg en smeer liggies met die eiergeelmengsel. Bak vir 20 minute, verlaag dan die oondtemperatuur tot 180°C en bak vir ’n verdere 15 minute. Haal die beesvleis Wellington uit die oond, laat rus vir 15 minute en sny in skywe. Sit voor met ’n rooiwynsous en bykos van jou keuse.

Lewer 4-6 porsies.