Maaskaasdeeg

500 ml koekmeel
2 ml bakpoeier
4 ml sout
240 g geroomde maaskaas
250 g botter
1 eiergeel, om oor te verf Vulsel
250 ml koekmeel
7,5 ml sout
Vars gemaalde swartpeper na smaak
1,5 kg beesvleisblokkies
30 ml kookolie
30 ml botter
750 ml beesvleisaftreksel
1 ui, gekap
10 ml fyngekapte, vars tiemie
5 ml fyngekapte, vars roosmaryn
30 ml worcestersous
45 ml port
500 ml bevrore groente (ek het ertjies en mielies gebruik)
Sout en swartpeper na smaak

Vir die deeg: Sif die droë bestanddele saam. Sny die maaskaas en botter met ’n mes by die meelmengsel in, of gebruik ’n voedselverwerker. Meng tot ’n sagte deeg. Bedek met kleefplastiek en hou in die yskas tot nodig. Vir die vulsel: Meng die meel, sout en peper in ’n groterige plastieksak.

Gooi die blokkies vleis in die sak en skud goed sodat die vleis met die meel bedek word. Verhit die olie en botter in ’n groterige, vlak pan. Braai die vleis bietjiesgewys tot goudbruin. Skep die vleis in ’n groot kastrol. Voeg die aftreksel, ui, kruie en geurmiddels by. Bedek en laat prut sowat ’n uur en 45 minute tot sag. (Voeg kookwater by as die sous te dik begin word.)

Voeg die groente by, verhit weer tot kookpunt en prut vir 2 minute. Laat die vulsel afkoel tot kamertemperatuur en verkoel verder tot benodig.

Om saam te stel: Voorverhit die oond tot 200 °C. Skep die vulsel in ’n voorbereide pasteibak. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak.

Druk sirkels uit die deeg met ’n skondrukker. Pak die deegsirkels op die vulsel sodat elke sirkel oorvleuel. Bestryk met die eiergeel en bak vir 30 minute of tot die deeg goudbruin en die vulsel borrelend is. Lewer 6-8 porsies.  

Kombuiswenk
Moenie probeer om die beesvleisblokkies alles op een slag te verbruin nie. Doen dit bietjiesgewys; dan sal die vleis nie stoom en vaal lyk nie, maar mooi bruin braai.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.