1 kg hoenderborsfilette, in hapgrootte blokkies gesny

250 ml (1 k) ongegeurde jogurt

30 ml (2 e) suurlemoensap

45 ml (3 e) kookolie

2 uie, fyngekap

30 ml (2 e) fyngemaakte knoffel

15 ml (1 e) fyngemaakte gemmer

45 ml (3 e) geroosterde masala

10 ml (2 t) fyn komyn

30 ml (2 e) paprika

10 ml (2 t) borrie

5 ml (1 t) rooibrandrissiepoeier

30 ml (2 e) tamatiepasta

Sout na smaak

2 heel brandrissies (opsioneel)

250 ml (1 k) klapperroom

1 bossie vars koljander, gekap

Plaas die hoender, jogurt en suurlemoensap in ’n bak en laat marineer vir ’n paar uur of oornag. Verhit die olie in ’n groot kastrol oor matige hitte en braai die uie tot goudbruin. Voeg 250 ml (1 k) warm water by en kook die uie totdat al die water weggekook het.

Voeg die knoffel, gemmer, speserye, tamatiepasta, sout en brandrissies by en laat kook vir 10 minute. Roer en voeg ’n klein bietjie water by indien nodig om te keer dat dit aanbrand.

Voeg die hoender en jogurtmarinade by, laat kook oor matige hitte en roer af en toe. Moet onder geen omstandighede water by die kerrie voeg nie.

Voeg ná 8-10 minute die klapperroom en gekapte koljander by. Laat kook vir 5 minute, roer een keer en sit die stoofplaat af. Sit voor met wit basmati-rys of roti.

Lewer 6-8 porsies