Slaai

  • 1 klein botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • Olyfolie
  • Sout, peper en komyn na smaak
  • 1 blik (410 g) kekerertjies, gedreineer, afgespoel en droog gedruk
  • 5 ml fyn kaneel
  • 15 ml esdoringstroop
  • 2 ryp avokado’s, geskil en in blokkies gesny
  • 2 appels, ontkern en in blokkies gesny
  • 3 groot hande vol slaaiblare, grof gesny
  • Halwe pak (125 g) brosgebraaide spekvleis
  • 125 ml pekanneute, gerooster en grof gekap

Slaaisous

  • 50 ml olyfolie
  • Sap van 2 suurlemoene
  • 5 ml Dijonmosterd
  • Paar druppels esdoringstroop
  • Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Kry twee oondbakke gereed. Voorverhit die oond tot 200 °C. Sit die botterskorsieblokkies in een van die oondbakke, bedruip liggies met olyfolie en geur met sout, peper en komyn na smaak. Sit die kekerertjies in die ander oondbak. Meng die kaneel, esdoringstroop en ’n paar druppels olyfolie saam en giet oor die kekerertjies. Meng goed deur.

Sit die twee bakke in die oond en oondrooster vir ongeveer 20 minute. Roer nou en dan. Ná 20 minute behoort die kekerertjies goudbruin en klewerig te wees. Haal dit uit die oond en rooster die botter- skorsie vir nog 5-10 minute, indien nodig, tot dit goudbruin gerooster en gaar is. Laat eenkant afkoel.

Sit die avokado- en appelblokkies in ’n bak. Klits die bestanddele vir die slaaisous saam en giet oor die avokado en appel (dit sal keer dit dit verbruin). Rangskik die slaaiblare op ’n groot dienbord. Skep die appel- en avokadoblokkies oor die slaaiblare, gevolg deur die geroosterde botterskorsie en die kekerertjies.

Krummel die bros spekvleis oor en sprinkel die pekanneute oor. Skep die res van die slaaisous oor en sit dadelik voor.

Lewer 4-6 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.