2 klein botterskorsies, in die lengte deurgesny

30 ml olie

1 ui, gerasper 

2 elk knoffelhuisies en brandrissies, gekap

5 ml elk komyn en koljander

250 g beesmaalvleis

80 ml water

45 ml gekapte pietersielie

Sout en swartpeper na smaak

125 ml ricotta

125 ml gekrummelde fetakaas

Brandrissiesous van jou keuse

2 avokado’s, in klein blokkies gesny

Vars koljanderblare, om af te rond

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met foelie uit. Skep die botterskorsies se pitte uit en verf met ’n lagie olie. Bak vir 30 minute tot halfgaar. Verhit intussen die res van die olie in ’n pan en braai die ui, knoffel en brandrissie daarin tot sag.

Voeg die komyn, koljander en maalvleis by en braai tot gaar. Voeg die water by, verhit tot kookpunt en prut vir 15 minute. Roer die pietersielie en geurmiddels by en verdeel die vulsel tussen die vier halwe botterskorsies. Bak die gevulde skorsies vir 25 minute.

Meng die twee soorte kaas, sprinkel oor die botterskorsies en bak vir nog 5 minute. Sprinkel die brandrissiesous en avokado oor. Rond af met vars koljanderblare en sit voor met slaai. Lewer 4 groot porsies.