Dié resep is ’n uittreksel uit Rooi Rose Kuierkos deur Vickie de Beer.

¦ 125 g sagte botter

¦ 1 knoffelhuisie, fyn gekap

¦ 5 ml paprika

¦ 10 ml rissievlokkies

¦ Groot hand vol koljanderblare, gekap

¦ Knippie sout

¦ 10-12 mielies

¦ 125 ml lig geroosterde sesamsaad

Meng al die bestanddele behalwe die mielies en sesamsaad. Braai die mielies oor matige kole tot gaar en smeer heeltyd van die rissiebotter aan.

Rol die warm mielies in die sesamsaad en sit voor met die orige rissiebotter. Lewer 8-10 porsies.

Vars idees en resepte vir enige kuier

Kuierkos_humanrousseaucom

“Kuier” is die woord wat ons Suid-Afrikaners se benadering tot saamwees verwoord. ’n Kuier is ’n uitnodiging om rondom lang tafels, ronde tafels, op stoepe en voor kaggels, op komberse, op grasperke of sandduine, onder koeltebome of sambrele gesellig te verkeer.

Dit is die belofte wat Vickie de Beer, bekroonde kosskrywer en kosredakteur van die tydskrif Rooi Rose, se nuwe kookboek inhou. In Kuierkos vier sy die lekkerte van saamwees en saameet met ons hartsmense. Met afdelings vir Moedersdag, Sondagmiddagete, ’n fyntee vir ouma, piekniek met pelle en ’n sop-en-brood-opskop (om maar ’n paar te noem) gee sy hope idees en smullekker resepte vir vele luilekker, uitgerekte kuiers.

Kuierkos word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R330.