2 pakke (200 g elk) Cream Crackers

Vulsel 1 liter melk

15-30 ml kitskoffiepoeier (na gelang van koffiesterkte wat jy verkies)

250 ml suiker

60 g botter

125 ml koekmeel

10 ml vlapoeier

100 ml mielieblom

2 ml sout 100 ml koue water

3 ekstragroot eiers (teen kamer- temperatuur), geskei

5 ml vanieljegeursel

Versiersel

500 ml versiersuiker

Ongeveer 45 ml louwarm koffie

Smeer ’n middelslag-tertbak met botter of bespuit met kleefwerende kossproei. Pak sowat 15 Cream Crackers in rye van 5 x 3 (of hoe dit die beste in jou tertbak pas). Sorg dat die breeklyne van die Cream Crackers almal in dieselfde rigting is. Vir die vulsel: Verhit die melk in ’n groot kastrol tot net onder kookpunt.

Verwyder van die hitte en roer die kitskoffiepoeier, suiker en botter by tot gesmelt. Meng die koekmeel, vlapoeier, mielieblom, sout, koue water en eiergele goed saam. Voeg van die warm melkmengsel uit die kastrol daarby en meng met ’n draadklitser tot glad. Giet alles terug in die kastrol by die res van die melk en verhit oor lae hitte tot kookpunt, terwyl aanhoudend geroer word met ’n draadklitser.

Prut vir ongeveer 5 minute tot verdik en gaar. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel by. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou dit by die dik koffievla in. Skep die vlavulsel versigtig oor die Cream Crackers in die tertbak en smeer gelyk. Pak dieselfde hoeveelheid Cream Crackers op die vlalaag en maak seker die breeklyne is in dieselfde rigting as die eerste laag Cream Crackers.

Verkoel tot heeltemal koud. Vir die versiersel: Sif die versiersuiker in ’n bak en voeg die koffie lepel vir lepel by, terwyl jy dit klop tot ’n smeerbare versiersel verkry word. Skep dit egalig oor die Cream Crackerlaag en smeer gelyk. Verkoel tot benodig. Lewer 15 porsies.