Gebruik enige kombinasie van groente waarvan jy hou. As jy vleis wil byvoeg, marineer twee hoenderborsies (in repies gesny) in die sous en voeg dit saam met die soetrissies by die res van die bestanddele in die wok. Garnale is net so lekker in dié roerbraai.

¦ 45 ml olie

¦ 2 uie, dun gesny

¦ 4 middelslag-wortels, in dun repies gesny

¦ 1 geel soetrissie, in dun repies gesny

¦ 3 knoffelhuisies, fyn gekap

¦ 250 g broccoli, in blommetjies gesny

¦ 500 ml gaar rys van jou keuse

Sous

¦ 45 ml sojasous

¦ 30 ml heuning

¦ 30 ml suurlemoensap

¦ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Omelet

¦ 3 eiers

¦ Skeut water

¦ Sout en vars gemaalde swartpeper

¦ 4 grasuie, fyn gesnipper

¦ Olie, vir braai

Verhit die olie in ’n groot pan of wok tot baie warm en braai die uie vinnig daarin tot amper gaar. Voeg die wortel en soetrissie by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die knoffel en broccoli by en roerbraai tot die broccoli begin gaar word.

Voeg nou die rys by en roerbraai tot die broccoli gaar en die rys neuterig gebraai is. Meng die bestanddele vir die sous saam en voeg dit by. Roerbraai tot die sous lekker deur die rys getrek het. Haal die wok van die plaat af en sit ’n groot swaarboompan op die warm plaat.

Klits die eiers, ’n bietjie water, sout en peper goed saam en voeg die grasuie by. Verhit ’n bietjie olie in die pan en giet die eiermengsel daarin. Braai tot die omelet goudbruin en gaar is (jy kan dit een keer omdraai as jy wil). Laat gly die omelet uit op ’n bord, rol dit styf op en sny in wieletjies. Sit die roerbraai voor met die omeletwieletjies bo-op. Lewer 2 porsies.