Vulsel

425 g ontpitte dadels, fyngekap

250 ml water

Sap van 1 suurlemoen

30 ml suiker

3 ml koeksoda

Hawermoutkoekielaag

500 ml hawermout

250 ml koekmeel

180 ml ligbruinsuiker

3 ml bakpoeier

200 g sagte botter

Verhit die dadels, water, suurlemoensap, suiker en koeksoda vir die vulsel saam in ’n kastrol tot kookpunt en prut liggies oor lae hitte, terwyl jy roer, tot die dadels sag gekook is. Bedek en laat staan die kastrol eenkant vir 10 minute.

Voorverhit nou die oond tot 180 °C en voer ’n vierkantige oondpan van 20 cm x 20 cm met twee lang stroke bakpapier uit, sodat die papier oor die kante van die pan hang. Smeer goed of bespuit met kleefwerende kossproei.

Roer die hawermout, meel, bruinsuiker en bakpoeier saam in ’n mengbak. Voeg die sagte botter by en meng tot ’n sagte deeg vorm (gebruik jou hande as dit makliker werk as ’n houtlepel).

Skep die helfte van die mengsel in die pan en versprei dit egalig oor die boom van die pan. Skep die dadelmengsel bo-op en smeer gelyk. Gebruik jou hande om die res van die hawermoutmengsel egalig oor die dadelvulsel te krummel.

Bak vir ongeveer 45-55 minute tot die krummellaag goudbruin en bros is. Laat dit in die pan afkoel en lig dan versigtig aan die bakpapier wat oor die kante hang, uit die pan. Sny in blokkies of stafies en bêre in ’n lugdigte houer.

Lewer 16 stafies