• 1 groot werfhoender, skoongemaak
  • 5 liter water
  • Sout
  • 3 uie, goed skoongemaak en fyn gekap
  • 160 ml rou pasta van jou keuse
  • 60 ml gekapte, vars pietersielie
  • Fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • Vars gemaalde swartpeper na smaak

Sit die hoender in ’n pot en bedek dit heeltemal met water. Voeg sout by, verhit tot kookpunt en bedek. Laat prut vir twee uur. Verwyder die hoender en laat dit afkoel.

Voeg die uie en pasta by die aftreksel in die pot, verhit weer tot kookpunt en prut vir nog 20 minute. (Vul die vloeistof aan met nog water as dit te min lyk.) Trek die hoendervleis van die bene af en gooi die bene weg. Vlok die vleis fyn en voeg dit terug by die vloeistof en pasta in die pot. Voeg die pietersielie, suurlemoenskil, -sap en geurmiddels na smaak by en sit voor.

Lewer 8 porsies