Hierdie eenvoudige sop bestaan net uit hoender, preie en ’n peperige aftreksel wat verdik word met rys. Ek het hierdie kortpadweergawe (met klaargaar hoender) ontwikkel vir die nuutste uitgawe van Boerekos wat tans op die winkelrakke is.

Vir my maak vars suurlemoenskil en pietersielie ’n reuseverskil. Dit is asof die byvoeging daarvan aan die einde van die kooktyd die eenvoudige, huislike smake in die sop wakker skud. Só ’n pot hoendersop sal enige skeet regdokter en koue winterlywe in ’n kits warm maak.

¦ 1 oondgeroosterde, heel hoender

¦ 4 liter goeie hoenderaftreksel

¦ 180 ml rou witrys

¦ 3 knoffelhuisies, fyn gekap

¦ 6 preie, goed skoongemaak en fyn gekerf

¦ 80 ml vars suurlemoensap

¦ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

¦ Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

¦ 60 ml gekapte, vars pietersielie

Ontbeen die hoender en sny die vleis in klein stukkies. Sit die hoendervleis in ’n kastrol en voeg die aftreksel, rys, knoffel, preie en suurlemoensap by. Verhit tot kookpunt en prut die sop vir ongeveer 1 uur, of tot die rys gaar en die sop verdik is.

Geur na smaak met sout en swartpeper, en roer die fyngerasperde suurlemoenskil en gekapte pietersielie by. Lewer 6-8 porsies.