Sjokoladekoek

250 g botter

200 g donker- of melksjokolade

375 ml sterk filterkoffie

500 ml suiker

500 ml bruismeel

45 ml kakao

2 eiers

10 ml vanieljegeursel

Oondgebakte karamel

1 x 397 g volroom-kondensmelk

5 ml fyn sout

Koffie-en-whisky-botterversiersel

180 g sagte botter

4 x 250 ml versiersuiker, gesif

45 ml baie sterk swart koffie

30-45 ml whiskey

Sjokoladekoek: Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer twee panne van 20 cm met olie. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Hou eenkant. Smelt die botter, sjokolade en filterkoffie saam oor lae hitte. Voeg die suiker by, verwyder van die hitte en roer tot die suiker opgelos is.

Sif die meel en kakao saam in ’n mengbak. Klits die eiers en vanieljegeursel saam en voeg by die sjokolademengsel. Voeg by die droë bestanddele en meng goed tot ’n gladde beslag. Verdeel tussen die twee panne en bak vir 35-45 minute tot deurgaar. Laat vir 10 minute in die panne afkoel en keer dan op draadrakke uit om verder af te koel.

Sny elke koeklaag presies in die middel deur om vier dun koeklae te vorm en bedek met kleefplastiek of foelie om te keer dat dit uitdroog.

Voorverhit die oond tot 210 °C. Skep die kondensmelk uit in ’n kleinerige oondbak wat dig kan toemaak en sprinkel die sout oor. Bedek dig. Sit die bak in ’n groter oondbak en maak dit halfvol warm water. Bak die kondensmelk vir 30 minute. Haal uit die oond en klits tot glad.

Bedek weer en bak vir ’n verdere 30 minute tot 1 uur tot die karamel dik en lig goudbruin is. Haal uit die oond, klits weer tot glad en laat afkoel.

Koffie-en-whiskybotterversiersel: Verroom die botter en versiersuiker goed saam. Voeg die koffie en whisky by en klits tot glad.

Smeer ’n dun lagie versiersel op elke koeklaag en stapel opmekaar. Smeer ’n dun lagie versiersel teen die kante en bo-op die koek. Smeer glad. Skep die orige versiersel in ’n spuitsak en knip ’n klein hoekie voor af.

Skep die afgekoelde oondgebakte karamel op die koek. Bêre die koek in die yskas, maar haal dit ongeveer 1 uur voor jy dit wil voorsit uit. Lewer 16-20 porsies.

Versiertegniek

Skep versiersel in ’n spuitsak en knip ’n klein puntjie van die sak af. Spuit klein bolletjies in ’n presies regop ry. Gebruik ’n teelepel se steel om elke bolletjie liggies na regs platter te smeer. Herhaal met die volgende ry bolletjies, smeer weer en herhaal die proses reg rondom die koek. Moenie bekommerd wees as jy nie ’n regte versierspuitsak het nie. ’n Stewige, verseëlbare plastieksak, soos Ziplock, werk net so goed hiervoor.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.