• 2 rolle (400 g elk) yskoue blaardeeg
  • 2 groot uie, dun gesny
  • 30 ml botter
  • 30 ml olie
  • 5 ml bruinsuiker
  • 5 ml balsamiese asyn
  • 1 houer (230 g) roomkaas (gerookte-ham-geur)
  • 1 pak (250 g) repiespekvleis
  • 60-100 g vars roket
  • 300 g kersietamaties, gehalveer
  • Sout en vars gemaalde swartpeper
  • Vars suurlemoensap en olyfolie

Voer twee bakplate met bakpapier uit. Spuit liggies met kleefwerende kossproei.

Rol die twee stukke deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel besprinkel is. Sny drie pieringgrootte sirkels uit elke stuk deeg. Rangskik drie sirkels deeg op elke uitgevoerde bakplaat en verkoel tot benodig.

Braai die uie oor lae hitte in ’n pan in ’n mengsel van botter en olie tot die uie sag en soet is. Sprinkel die bruinsuiker en balsamiese asyn oor en braai verder tot die uie stroperig is. Verwyder van die hitte en laat afkoel tot louwarm.

Skep die roomkaas in ’n bak en klop met ’n houtlepel tot sag en glad. Voeg die gekaramelliseerde uie by en roer tot goed gemeng.

Voorverhit die oond tot 220 °C.

Knip elke repie spek in die lengte deur sodat jy twee lang, dunner repies uit ’n stukkie spek kry. Haal die bakplate met die deeg uit die yskas en prik die binneste deeg van elke sirkel met ’n vurk.

Skep ’n lepel van die uie-en-roomkaasmengsel in die middel van die sirkel en smeer dit platter, maar laat 1 cm rondom teen die kante oop. Rol ’n paar van die dunner repies spek in ’n spiraal op en pak dit op elke tertjie.

Bak die tertjies vir ongeveer 15 minute tot die deeg opgepof en goudbruin en die spekvleis gaar is. Terwyl die tertjies bak, meng die roket, tamaties, sout, peper en ’n skeut vars suurlemoensap.

Net voor opdiening, skep ’n rojale porsie van die slaai op elke tertjie en rond af met ’n paar druppels olyfolie en ’n draaisel vars gemaalde swartpeper.

Lewer 6 groot porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.