Brosbroodbasis

250 g sagte botter 180 g ligbruinsuiker 5 ml vanieljegeursel 500 ml koekmeel 5 ml bakpoeier 5 ml elk kaneel en fyn gemmer

Bolaag

100 g botter

45 ml gouestroop of esdoringstroop

500 ml versiersuiker, gesif

5 ml kaneel

10 ml fyn gemmer

’n Paar druppels water (indien nodig)

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n pannetjie van 20 cm x 30 cm. Voer uit met ’n strook bakpapier en smeer weer. Verroom die botter en suiker goed en voeg die vanieljegeursel by. Roer goed.

Voeg die meel, bakpoeier en speserye by. Meng goed tot ’n deeg vorm. (As die mengsel baie droog lyk, voeg ’n paar druppels yswater by en meng verder.)

Druk die deeg egalig op die boom van die pan vas en prik dit oraloor met ’n vurk. Bak die deeg vir 20-25 minute tot strooikleurig. Haal dit uit die oond en laat afkoel.

Verhit die botter, stroop, versiersuiker, kaneel en gemmer oor lae hitte tot ’n smeerbare mengsel (voeg ’n paar druppels water by indien nodig). Laat effens afkoel en smeer oor die brosbroodbasis. Laat staan tot ferm en sny dit dan in stafies.

Bêre die stafies in ’n lugdigte houer.

Lewer ongeveer 2 dosyn stafies