Hoender

4 hoenderborsies, sonder vel of been

5 ml paprika

5 ml komyn

5 ml hoenderspeserye

3 ml sout

3 ml swartpeper

3 ml droë roosmaryn

3 ml droë tiemie

Olyfolie

Vars suurlemoensap

Somersalsa

2 kiwivrugte, geskil en in klein blokkies gesny

1 komkommer, geskil en in klein blokkies gesny

Halwe mango, geskil en in klein blokkies gesny

1 klein ui, geskil en fyngekap

2-5 ml strooisuiker

Skeut appelasyn

3 hande vol babaspinasieblare, om voor te sit

Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n bakplaat met foelie uit. Druk die hoenderborsies met kombuispapier droog. Maak vlak, diagonale insnydings met ’n skerp mes in elke hoenderborsie.

Meng die speserye, geurmiddels en kruie en vryf dit goed oor elke hoenderborsie – veral in die insnydings wat jy gemaak het, sodat die hele hoenderborsie met ’n laag daarvan bedek is.

Pak die hoenderborsies op die bakplaat, bedruip liggies met olyfolie en oondrooster vir ongeveer 7 minute tot gaar. Sodra die hoenderborsies uit die oond kom, bedruip met ’n bietjie vars suurlemoensap, bedek en laat rus.

Meng al die bestanddele vir die salsa saam. Sit die hoender voor op ’n bed van spinasieblare en skep die salsa oor, of sit apart saam met die hoender voor. Indien verkies, kan jy ’n sous maak van natuurlike jogurt waarby ’n bietjie knoffel en kruisement ingeroer is om saam met die hoender te geniet.

Lewer 4 porsies