Die smaak van chorizo pas fantasties by tamatie-geregte, soos hierdie sop. As jy nie chorizo in die hande kan kry nie, vervang dit in hierdie resep met bros gebraaide salami of spekvleis.

¦ 1-1,5 kg tamaties (gebruik romatamaties of enige ander rooiryp tamaties)

¦ 1 ui, gekap

¦ 4 heel knoffelhuisies

¦ 60 ml olyfolie

¦ Seesout en vars gemaalde swartpeper na smaak

¦ 60 ml sagte bruinsuiker

¦ 750 ml hoender- of groenteaftreksel

¦ 5 ml gemaalde komyn, liggies gerooster

¦ 5 ml gerookte paprika

¦ 60 ml tamatiepasta

¦ 30 ml sojasous

¦ 1 chorizo-wors, in dun wielietjies gesny en bros gebraai

Voorverhit die oond tot 200°C.

Pak die tamaties, ui en knoffel op ’n bakplaat, bedruip met olyfolie en geur met sout en peper. Sprinkel die suiker oor. Rooster vir ongeveer 30-40 minute tot goed bruin.

Skep die mengsel in ’n kastrol. Voeg aftreksel, komyn, paprika, tamatiepasta en sojasous by. Verhit tot kookpunt en laat prut liggies vir ongeveer 35 minute.

Verpulp die sop en giet deur ’n sif om van die skilletjies ontslae te raak. Skep in bakkies en rond af met bros gebraaide stukkies chorizo en ’n draaisel swartpeper. Lewer 8 porsies.